On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

International

El Niño kan lei tot rekordtemperature in 2024

───   11:40 Mon, 15 Jan 2024

El Niño kan lei tot rekordtemperature in 2024 | News Article
Die VN dring aan op die drastiese vermindering van emissies. Foto: Unsplash/Markus Spiske

“Beplanning is alles, wees bewus van vroeë waarskuwingstelsels en wees bewus van wat rondom jou gebeur.”

Weens El Niño kan vanjaar warmer wees as die rekordtemperature van 2023, het die Verenigde Nasies (VN) gewaarsku. Die VN het gevolglik aangedring op die drastiese vermindering van emissies om klimaatsverandering te bekamp.

Die Wêreld- Meteorologiese Organisasie (WMO) van die VN, sê nuwe maandelikse rekordtemperature word tussen Junie en Desember opgestel in die Noordelike Halfrond, en die patroon sal waarskynlik voortduur as gevolg van die warm El Niño-weerverskynsel.

El Niño, wat deur Suid-Amerikaanse vissermanne vernoem is weens die verhitting van die Stille Oseaan se oppervlakwater van Chili, gewoonlik in Desember, sal na verwagting die hitte in 2024 nog verder verhoog.

Die Amerikaanse Nasionale Oseaniese en Atmosferiese Administrasie (NOAA) voorspel dat daar ’n een uit drie kans is dat 2024 warmer as 2023 sal wees – en ’n 99%-sekerheid dat 2024 onder die vyf warmste jare sal tel.

Gavin Schmidt, Nasa-klimatoloog en direkteur van die Nasa Goddard-instituut vir Ruimtestudies, sê die kans is selfs groter. “Ek stel dit op ongeveer 50/50: 50%-kans dat dit warmer sal wees, 50%-kans kans dat dit effens koeler sal wees,” het hy aan AFP gesê, en bygevoeg daar is wenke van "geheimsinnige" veranderinge aan die aarde se klimaatstelsels, wat nietemin meer data sal benodig om te bevestig of te weerlê.

Die WMO sê Julie en Augustus verlede jaar was die twee warmste maande wat al aangeteken is. Dit bevestig amptelik dat 2023 “met ’n groot marge” die warmste jaar op rekord is.

Celeste Saulo, die WMO se nuwe sekretaris-generaal, waarsku El Niño, wat middel 2023 ontstaan het, waarskynlik die temperature in 2024 nog verder sal verhoog. Die weerverskynsel, wat geassosieer word met verhoogde hitte wêreldwyd, verhoog gewoonlik globale temperature in die jaar nadat dit ontwikkel het.

“Die verskuiwing van die afkoeling van La Niña  na die opwarming van El Niño teen die middel van 2023 word weerspieël in die temperatuurstyging,” sê sy.


Suid-Afrika se landbousektor moet voorberei vir ongekende droogte in 2024 ná ’n jaar van rekordoorstromings en -reënval, veral langs die oostelike kus van die land, waarsku kenners.

“Landbou vereis stabiliteit op ’n seisoenale basis vir gewasse en diere om te floreer. Klimaatsonstabiliteit is altyd sleg vir die landbou en vir die ondersteunende infrastruktuur, soos paaie, spoorweë, water en elektrisiteit, waarop voedselproduksie staatmaak. 

“Dit sal ook wêreldwye verskaffingskettings ontwrig, wat beteken dat die verkryging van voedsel van alternatiewe markte al hoe moeiliker sal word,” sê prof. Mark Laing, emeritus professor en voorsitter van plantpatologie aan die Universiteit van KwaZulu-Natal.

Laing sê boere moet diversifiseer deur gewasse in te sluit wat veranderlike klimaatstoestande kan verduur, soos kassawe en boomgewasse soos avokado, makadamia en lietsjie.

“Mono- of duokulture is nie meer volhoubaar nie. Boere moet kyk na die ontwikkeling van agronomiese praktyke om hul gewasse toe te laat om uiterste weersomstandighede die hoof te bied.”

Volgens agricultureportal.co.za het AgriSA se hoof van beleid en natuurlike hulpbronne en 'n lid van die presidensiële klimaatsveranderingskomitee, Janse Rabie, verlede jaar gesê Suid-Afrika se boere is in ’n moeilike posisie.

“Boere is intrinsiek gekoppel aan die natuurlike omgewing. Hulle is deeglik bewus van die invloed van klimaatsverandering. Maar dit was nog nooit duurder as nou om kos te produseer nie. Insetkoste was nog nooit so hoog nie. Die verhoging in die minimum loon verlede jaar was ’n bykomende slag. 

“Die goeie seisoene wat ons sedert 2017 geniet het, kom waarskynlik tot 'n einde. Ons is baie bekommerd oor die El Niño-voorspellings deur ons wetenskaplikes, veral omdat ons boere tans so kwesbaar is. Ons boodskap aan boere is om nou te begin voorberei vir wat ons glo ongekende droogtetoestande gaan wees,” het Rabie gesê.

Andrea Campher, die risiko- en rampbestuurder by AgriSA, het vroeër gesê die vereniging waarsku boere om goed vooruit te beplan en om die veerkragtigheid van hul bedrywighede te versterk. 

“Ons kan nie vir boere sê hoe om te boer nie, dit is nie ons kundigheid nie. Maar wat ek kan sê, is dat boere kan kyk om klimaatslim landboumetodologieë te ondersoek, verskeie versekeringsprodukte en nuwe tegnologieë te ondersoek. Beplanning is alles, wees bewus van vroeë waarskuwingstelsels en wees bewus van wat rondom jou gebeur.”

Die delikate balans  is vir boere om aan te pas en goed voorbereid te wees vir uiterste weerstoestande terwyl hulle terselfdertyd ekonomies lewensvatbaar en volhoubaar bly.

"Dit is 'n noodsaaklikheid vir ons voedselsekerheid," sê Campher.

OFM Nuus cg/dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.