On Now
Weekends 22:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: 00:00 - 05:00 Early Mornings with Oscar
Listen Live Streams

International

Gift of the Givers se streekhoof sterf in Gasa

───   12:43 Thu, 16 Nov 2023

Gift of the Givers se streekhoof sterf in Gasa | News Article
Ahmed Abbasi, hoof van Gift of the Givers in Gasa, is dood. Foto: Gift of the Givers

“’n Paar dae gelede het hy genoem dat dit beter is om saam met sy gesin in hul eie woonstel te sit en wag vir hul beurt om in waardigheid te sterf, as ongewapende martelare, as om van plek tot plek te hardloop soos deur die IDF voorgestel.”

Die toenemende konflik in Gasa het Donderdag (16/11) die lewe van die streekhoof van die humanitêre organisasie Gift of the Givers geëis. Ahmed Abbasi en sy broer is deur Israeliese magte in Gasa gedood toe hulle van oggendgebed teruggekeer het. 

Dr. Imitiaz Sooliman, stigter van Gift of the Givers, het Abbasi beskryf as ’n vriendelike, saggeaarde en warm mens. Hy beweer hy is direk geteiken.

Abbasi, ’n pa van drie, is in 2013 as hoof van die Gift of the Givers in die streek aangestel. “Hy het die mense van Gasa met onderskeiding gedien,” sê Sooliman.

“Hy was verantwoordelik vir die inwerkingstelling van verskeie projekte, insluitend die versorging van weeskinders, weduwees, bejaardes en siekes. Hy het water deur ons ontsoutingsaanlegte gelewer, kospakkies uitgedeel, warm etes verskaf en beskadigde huise opgeknap.

“Abbasi was vasbeslote om te bly ten spyte van die konflik aangesien hy geweier het om van Israeliese magte weg te hardloop,” sê hy.

“’n Paar dae gelede het hy genoem dat dit beter is om saam met sy gesin van 34 in hul eie woonstel te sit en te wag vir hul beurt om in waardigheid te sterf, as ongewapende martelare, eerder as om van plek tot plek te hardloop soos deur die IDF voorgeskryf.“

Ahmed Abbasi. Foto: Facebook

Abbasi het in hierdie gevaarlike tye namens die organisasie probeer help waar hy kon.

Gift of the Givers verwelkom en ondersteun ook die versoek deur pres. Cyril Ramaphosa in Katar dat Suid-Afrika Israel na die Internasionale Strafhof verwys het om vir oorlogsmisdade en misdade teen die mensdom ondersoek te word.



“Ons ondersteun ook ten volle die mosie vandag in die parlement vir die uitsetting van die Israelse ambassadeur met onmiddellike effek en dat diplomatieke betrekkinge met … Israel verbreek moet word. Ons wil byvoeg dat Israel aanspreeklik gehou moet word om oorlogsvergoeding te betaal vir die heropbou van Gasa en om elke enkele gesin wat hulle uitgewis het, te vergoed.”

Die Stad Kaapstad gaan 13 individue met die toekenning van burgerlike eerbewyse vereer vir hul beduidende bydrae tot die samelewing. Die tradisionele pryse keer terug ná ’n dekade. 

Sooliman is een van die ontvangers van vanjaar se eerbewyse. Hy en sy nieregeringsorgansisasie het bekend geword in Suid-Afrika en wêreldwyd vir die werk wat hulle doen. Of dit nou aardbewings in Haïti, oorlog in Sirië, Jemen of Gasa, of vloede en brande in townships in Suid-Afrika is, Gift of the Givers is dikwels die eerste op die toneel en die laaste om te vertrek.

Sooliman en die ander burgerlikes wat vereer  word, sal hul toekennings op 6 Desember ontvang. Dit sluit in Athol Fugard en wyle Brenda Fassie. 

OFM Nuus Corné/Daphné/Morné

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.