On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Central SA

Sasolburg-kleuter kort dringend ortopediese hulpmiddels

───   ZENANDE MPAME 10:00 Thu, 09 May 2024

Sasolburg-kleuter kort dringend ortopediese hulpmiddels | News Article
Die Sasolburg-kleuter Miané Grobler (4) benodig dringend ortopediese hulpmiddels. Foto verskaf

“’n Gholfdag word beplan om geld in te samel vir die dinge wat sy nodig het.”

Ouers van Sasolburg beplan ’n gholfdag op Vrydag 21 Junie in Vaalpark, op die Heron Banks-gholfbaan, om geld in te samel vir die nodige ortopediese hulpmiddels wat hul vierjarige dogter nodig het.

Serebrale gestremdheid is by Miané Grobler gediagnoseer. Sy ly ook aan epilepsie weens komplikasies by geboorte.

Miané kort dringend ’n staanraam, voetstutte en ’n spesiale loopraam om te help met haar balans terwyl sy self probeer staan.

Miané Grobler is met serebrale gestremdheid gediagnoseer. Foto verskaf

“Toe sy gebore is, het sy 35 minute lank opgehou asemhaal, sy is gereanimeer en suurstof gegee. Die dokters het toe vir ons gesê daar sal breinskade wees, maar in daardie stadium kon hulle dit nie opspoor nie,” sê haar ma, Beonnette Grobler.

“Toe sy ses maande oud was, is ’n MRI gedoen en ons het uitgevind dat sy epilepsie en serebrale gestremdheid het wat haar spraak en beweging sou beïnvloed, ook dat sy nie dinge sou kon optel of vashou nie.”

“Dit het ons hele gesin geraak, want in alles wat ons beplan, moet ons dit rondom Miané beplan. As ons na ’n plek toe gaan, moet ons kyk of hulle geriewe het wat vir mense in rolstoele voorsiening maak sodat sy in haar rolstoel kan rondbeweeg.”

‘Dit is te min vir haar ontwikkeling’

Miané gaan maandeliks vir arbeids-, fisio- en spraakterapie in die Sasolburgse hospitaal. Die probleem is dat dit te min is vir haar ontwikkeling, sê Grobler.

Dié voorskoolse kleuter woon by albei haar ouers en haar ma sien bedags na haar om. “In die Vaaldriehoek maak al die spesialebehoefteskole nie regtig voorsiening vir Miané nie, aangesien dit vir kinders is wat outisties is en sy is serebraal gestremd.”

“Die skole wil haar nie inneem nie omdat sy epilepsie het, sy kan by Eureka begin skoolgaan, maar eers as sy ses jaar oud is – oor twee jaar. Wanneer sy vyf word, begin ons met die aansoeke sodat sy Eureka kan bywoon.”

Sy gaan glad nie vanjaar na ’n spraakterapeut nie. Foto verskaf

In vorige jare het sy ook spraakterapie by die Sasolburg-hospitaal gekry omdat sy nog nie kan praat nie. Maar vanjaar kon die hospitaal nie een vir haar kry nie, so sy sien glad nie ’n spraakterapeut nie.

“Al die geld wat ons van die gholfdag kry, gaan om vir Miané die ortopediese hulpmiddels te kry wat sy nodig het, so kom ondersteun ons asseblief.”

OFM Nuus/Zenande Mpame cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.