On Now
Weekends 16:00 - 19:00
All Request Sunday Nikki
NEXT: 19:00 - 20:00 Nuut in Afrikaans with Nadine
Listen Live Streams

Central SA

Sasolburg-seun tuis ná ernstige rugbybeserings

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:39 Tue, 07 May 2024

Sasolburg-seun tuis ná ernstige rugbybeserings | News Article
Foto: Vaalweekblad

“Ná die wedstryd het Groenewald inmekaargesak, vermoedelik weens stuipe.”

’n Leerder van Sasolburg is uit die hospitaal ontslaan, nadat hy die naweek ernstige beserings in ’n rugbywedstryd opgedoen het en per helikopter vir behandeling geneem is.

Brendan Groenewald (18) van die Hoërskool Sasolburg, is Saterdag (5/4) in ’n rugbywedstryd teen die Hoërskool Brandwag van Benoni beseer, nadat hy ’n kragtige hou teen die kop van ’n teenstander se knie gekry het. Groenewald het verkies om aan te hou speel ondanks die duidelike ongemak.

Brendan Groenewald se ouma soen hom voordat hy per helikopter hospitaal toe geneem is. Foto: Ettienne van Rensburg

Ná die wedstryd het Groenewald inmekaargesak en vermoedelik stuipe gekry, vertel SW Smit, eerstespanafrigter van Sasolburg.

Groenewald is per helikopter na die Unie-hospitaal in Alberton geneem, waar eers vermoed is dat hy ’n nekbesering opgedoen het. Verdere toetse het bevestig dat hy ernstige harsingskudding opgedoen het. Dokters was bekommerd oor sy skouer wat hy tydens die wedstryd beseer het, en die jong speler is oornag in die hospitaal gehou.

‘Hy sal die res van die jaar langs die kantlyn wees’

Hy is die volgende dag ontslaan, maar dit is die einde van sy seisoen, want hy sal vir die res van die jaar langs die kantlyn wees.

Net bietjie meer as ’n jaar gelede het ’n jong rugbyspeler van Upington gesterf, nadat hy ernstige besering tydens ’n rugbywedstryd opgedoen het. Deandro Titus (23) is op 25 Februarie beseer nadat hy vir DFC teen Groblershoop in Upington uitgedraf het.

Foto: Facebook

Titus, wat flank vir die DFC in Upington gespeel en daar gewoon het, is op Sondag 5 Maart in Kimberley oorlede.

Die Australiese webtuiste Better Health beklemtoon die belangrikheid daarvan om toepaslike toerusting te hê om rugbybeserings te voorkom. Dit sluit die dra van die regte skoene in met goeie houvas om gly en kneusplekke te voorkom, enkelbande om beseringsrisiko’s te verminder, en die gebruik van ’n mondskerm vir ekstra beskerming.

Nog ’n belangrike aspek van beseringsvoorkoming is om ’n veilige speelomgewing te verseker. Verwyder enige potensiële gevare wat besering kan veroorsaak. Maak ook seker dat daar genoeg veilige spasie vir spelers rondom die doelgebied is.

OFM Nuus/Charné van der Merwe cg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.