On Now
Weekends 16:00 - 19:00
All Request Sunday Nikki
NEXT: 19:00 - 20:00 Nuut in Afrikaans with Nadine
Listen Live Streams

Central SA

Vanderbijlpark-onderwyseres praat ná skorsing weens belediging

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 10:35 Tue, 07 May 2024

Vanderbijlpark-onderwyseres praat ná skorsing weens belediging | News Article
Kavitha Reddy was hoof van lewenswetenskappe by die skool.

“Die onderwyseres se gedrag het Curro se etiese kode oortree en die aanbeveling van afdanking stem ooreen met vorige gevalle waar onderwysers leerders verkleineer het.”

Die onderwyseres van Curro Vanderbijlpark, wat verhoor is omdat sy ’n leerder beledig het en skuldig bevind is aan wangedrag, het vir die eerste keer in die openbaar oor die voorval gepraat. 

Curro Holdings het daarop gereageer deur te bevestig dat Kavitha Reddy skuldig bevind is aan onbetaamlike gedrag en reeds in Maart 2023 afgedank is. Dit was ná ’n voorval waar sy glo aan ’n leerder gesê het dat sy soos ’n “idioot” (idiot) lag.

Reddy was hoof van lewenswetenskappe by die skool.


Die voorval het op 16 Februarie 2023 in ’n gr. 11-klaskamer plaasgevind, en later, tydens die tugverhoor twaalf dae later, het Reddy nie die aanklagte ontken nie.

Haar gedrag het Curro se etiese kode oortree en die aanbeveling van afdanking stem ooreen met vorige gevalle waar onderwysers leerders verkleineer het, sê Joy Smith van Curro. “Die besluit van die tugverhoor is in ’n interne appèl bekragtig, en ’n klag wat by die KVBA ingedien is, wat vir versoening geskeduleer was, is op 13 April 2023 deur Reddy teruggetrek.”

“Curro glo elke kind maak saak en ons respekteer die grondwetlike opdrag om die regte van kinders te beskerm. Ons huiwer nie om vinnig en prosedureel-billik op te tree wanneer ons beleidstellings, wat ontwerp is om ons leerders te beskerm, oortree word nie en sal aanhou om dit te doen.”

Die voorval volg kort nadat Curro Academy Protea Glen in Soweto die Engels-en-geskiedenisonderwyseres in 2023 afgedank het nadat sy voor ’n tugverhoor ook aan wangedrag skuldig bevind is. Nonkululeko Gwatyu is ontslaan omdat sy laat was vir skool en verlof geneem het sonder om die skool in kennis te stel.

Tydens ’n konfrontasie met Shanette Tiquin, die uitvoerende hoof van die skool oor Gwatyua se gedrag, het Tiquin haar glo ’n aap genoem.

Gwatyua het beweer sy is afgedank omdat sy opgestaan het teen Tiquin se beweerde rassistiese opmerking. Tiquin self is ook in Augustus 2023 uit haar pos ontslaan.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.