On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Diereliefhebbers gewaarsku oor toename in vergiftigings

───   HEIDRÈ MALGAS 13:06 Mon, 22 Apr 2024

Diereliefhebbers gewaarsku oor toename in vergiftigings | News Article
’n Hond wat gif ingekry het, maar nog leef, moet so gou moontlik na ’n veearts geneem word. Foto: Unsplash/Anna Dudkova

“Die motivering agter die vergiftiging is gewoonlik om toegang tot ’n huis te verkry om in te breek.”

Die misdadige vergiftiging van troeteldiere en veral waghonde, om toegang tot eiendomme te verkry, is ’n ontstellende en dikwels bose daad wat ernstige gevolge inhou vir mens én dier.

Mike Bolhuis, privaat ondersoeker, sê hierdie taktiek word deur individue met bose bedoelings gebruik om ongemagtigde toegang tot ’n eiendom te verkry vir verskillende misdadige aktiwiteite soos inbraak, diefstal, vandalisme of selfs ernstiger oortredings.

Bloemfontein se DBV kry nie so baie gevalle soos in ander stede nie, omdat dit nie by die polisie aangemeld word nie, sê Reinet Meyer, hoofinspekteur. “Die motivering agter die vergiftiging is gewoonlik om toegang tot ’n huis te verkry om in te breek,” sê Meyer.

’n Hond wat gif ingekry het, maar nog leef, moet so gou moontlik na ’n veearts geneem word. Inbrekers gebruik dikwels skoenpolitoer of miergif.

Die vernaamste tekens is wanneer die hond skuim uit die mond kry. Hulle kan ook stuiptrekkings kry. Party honde se tandvleis begin bloei.

“Om honde binne die huis te laat slaap hou hulle veilig; dit is gewoonlik honde wat buite slaap wat vergiftig word. Wanneer jou honde buitentoe gaan, loop deur jou erf en kyk vir enige vreemde kos of voorwerpe,” vertel Meyer.

Sy sê troeteldiereienaars moet altyd die vergiftiging by die polisie aanmeld, want dit is nie net gevaarlik vir diere nie, maar ook vir klein kindertjies wat enigiets in hul mond sit.

Die vergiftiging van diere is ’n kriminele oortreding in Suid-Afrika, strafbaar kragtens die Wet op Dieremishandeling en ander relevante wetgewing, sê Bolhuis. Oortreders kan aangekla word van dieremishandeling, oortreding van eiendom, vandalisme, diefstal en ander verwante misdrywe.

“Wetstoepassingsagentskappe neem sulke gevalle ernstig op en voer ondersoeke uit om die verantwoordelikes te identifiseer en te vervolg,” sê Bolhuis. Die vergiftiging van troeteldiere affekteer nie net individuele troeteldiereienaars nie, maar lei ook tot vrees en ongemak in gemeenskappe.

Dit kan inwoners onveilig en kwesbaar laat voel, wat lei tot verhoogde bekommernisse oor veiligheid en misdaadvoorkoming.


Gevalle van troeteldiervergiftiging kan gemeenskapsverhoudinge skaad en vertroue skend aangesien bure versigtig raak vir mekaar en twyfel aan die veiligheid van hul omgewing.

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.