On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Central SA

Sonskynkind van Bloemfontein los ‘voetspore oral waar sy gegaan het’

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:24 Mon, 22 Apr 2024

Sonskynkind van Bloemfontein los ‘voetspore oral waar sy gegaan het’ | News Article
Haar dood is ’n groot skok vir die familie omdat Riané Coetzee (16) Donderdagaand goed gelyk en ook grappies gemaak het toe hulle vir haar gaan kuier het. Foto verskaf

“Die dokters kon haar hart die eerste keer aan die gang kry, maar het die tweede keer langer as ’n uur probeer …”

’n Sestienjarige meisie van Bloemfontein is oorlede nadat sy ’n oordosis pille gedrink het.

Die tragedie het ontvou ná ’n konfrontasie met haar ma, Riana Coetzee, Woensdagoggend (17/4) oor inhoud wat op Riané se selfoon was.

Riané het aan haar ma erken dat sy seer het, maar het verkies om dit nie verder met haar ma te bespreek nie. Daarna het sy na haar kamer gegaan waar sy die oordosis pille gedrink het.

“Toe Riané uit die kamer kom, kon ek dadelik sien iets is fout. Sy was bleek, erg van balans af en kon nie praat nie.”


Sy het besef haar dogter moet dadelik by ’n hospitaal uitkom. “Riané het gesukkel om te loop en haar 15-jarige boetie moes my help om haar in die motor te kry.”

Riané se ander broer (20) en haar pa was nie by die huis nie. Sy is Woensdagoggend in die Pelonomi-hospitaal opgeneem en Donderdagoggend na die waakeenheid oorgeplaas.

Volgens Riana het haar dogter nie aan depressie gely of enige medikasie gebruik nie. “Ek het geen idee waar sy die pille gekry het, of watter pille sy gedrink het nie.”

Haar dood is ’n groot skok vir die familie omdat Riané Donderdagaand goed gelyk en ook grappies gemaak het toe hulle vir haar gaan kuier het.

Riané Coetzee (16). Foto verskaf

Dit was die laaste keer wat haar familie en haar kêrel haar gesien het nadat sy opgeneem is. “Ek het geen idee wat van Donderdag 20:00 tot Vrydag 05:50 gebeur het nie.”

Riana vertel haar dogter se hart het twee keer gaan staan. “Die dokters kon dit die eerste keer aan die gang kry, maar het die tweede keer langer as ’n uur probeer …” Vergeefs.

Sy beskryf haar dogter as ’n geliefde sonskynkind. “Ek het altyd gehoor hoe ’n oulike dogter ek het en dat sy sulke goeie maniere het. Ek weet sy het voetspore gelos oral waar sy gegaan het.”

Medelye het intussen op Facebook ingestroom vir die leerder van die Hoërskool Bloemfontein.

Begrafnisreëlings is nog nie getref nie omdat die hospitaal Riané se dood aan onnatuurlike oorsake toegeskryf het. Die polisie moet nou eers ’n nadoodse ondersoek doen.

As jy, of iemand wat jy ken, die risiko loop om jouself te beseer, bel asseblief die Suid-Afrikaanse Depressie-en-Angsgroep (SADAG) se selfmoordnoodhulplyn: 0800 567 567

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.