Central SA
Noord-Kaapse polisie kry wapens, ammunisie in Kuruman-huis─── CHARNÉ VAN DER MERWE 09:27 Sat, 20 Apr 2024
Lede van die SAPD is deur die provinsiale polisiekommissaris vir die Noord-Kaap geloof vir hul vinnige reaksie.
Twee mans sal Maandag (22/4) in die Kuruman-landdroshof in die Noord-Kaap verskyn nadat hulle vir die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie in hegtenis geneem is.
Lede van die John Taolo Gaetsewe-hoofwegpatrollie, saam met die Openbare Orde Polisie, K9-eenheid, Kuruman Sigbare Polisiëring en speurders het Vrydag (19/4) inligting opgevolg en op ’n huis in Kuruman toegeslaan.
Daar is ook ammunisie op die perseel gekry. Foto verskaf
Die polisie het vier vuurwapens, ammunisie, asook pangas en messe op die perseel gekry, sê lt.kol. Sergio Kock.
Die twee mans, onderskeidelik 29 en 36 jaar oud, is in hegtenis geneem en van die besit van ongelisensieerde vuurwapens, ammunisie en gevaarlike wapens aangekla.
Die verdagtes is in hegtenis geneem weens die besit van ongelisensieerde vuurwapens. Foto verskaf
Die verdagtes sal na verwagting in die Kuruman-landdroshof verskyn, terwyl die ondersoek voortduur.
Lede van die SAPD is deur lt.genl. Koliswa Otola, die provinsiale kommissaris vir die Noord-Kaap, geloof vir hul vinnige reaksie.
OFM Nuus cg