On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Central SA

Vermoorde SUT-student op Viljoenskroon ter ruste gelê

───   ZENANDE MPAME 13:52 Fri, 19 Apr 2024

Vermoorde SUT-student op Viljoenskroon ter ruste gelê | News Article
Thato Molaudi. Foto verskaf

“Hierdie jong man sal hierdie naweek ter ruste gelê word.”

Die vermoorde student van die Sentrale Universiteit vir Tegnologie (SUT) se begrafnisdiens vind Saterdag (20/4) op Viljoenskroon in die Noord-Vrystaat plaas. 

Thato Molaudi (19) is Dinsdagoggend (9/4) buite sy blyplek in King Edwardstraat, Willows, aangeval terwyl hy op pad was om sy NSFAS-toelae te bevestig. 

“Thato was een van my huurders. Ek het Dinsdag om 06:00 van die aanval gehoor toe een van my veiligheidswagte my gebel het,” sê Morare Sekoai. 

‘Die begrafnisdiens is Saterdag op Viljoenskroon’

“Die begrafnisdiens vir Thato sal Saterdag op Viljoenskroon wees. Dis die inligting wat ek van die familie ontvang het.”

Vier verdagtes het Donderdag in die landdroshof in Bloemfontein verskryn vir hul borgtogaansoek. Hulle word aangekla van moord en aanranding. Die saak duur voort.

Tumelo Monyane (27), Thabang Mabesa (25), Neo Molefe (23) en Thato Mahlomela (20) is onmiddellik ná die aanval in hegtenis geneem.

“Dit is tragies dat die lewe van ’n jong mens so voortydig beëindig is en nog ’n jong mens ernstig beseer is. Ons beskou die voorval in ’n baie ernstige lig,” sê Seithathi Semenokoatsane, SUT-woordvoerder.

’n Onderwysstudent Lerato Khobeni is ook Dinsdagoggend aangeval. Sy is ’n paar dae later uit die hospitaal ontslaan. 

GroundUp berig Molaudi se tante sê die gesin is verpletter, want dit was sy eerste jaar wat hy sy droomkursus studeer het. Sy ander doelwit was om ’n rapper te word.

‘Molaudi se tante sê die gesin is verpletter’

“Die familie van die oorledene was nie Donderdagmiddag  by die hofverrigtinge nie, omdat hulle besig was om vir die begrafnis voor te berei. Hulle het my gevra om dit by te woon,” het Sekoai buite die landdroshof gesê.

OFM Nuus/Zenande Mpame dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.