On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse polisiehond nog skerp ná 12 jaar diens

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:39 Fri, 19 Apr 2024

Bloemfonteinse polisiehond nog skerp ná 12 jaar diens | News Article
Christo Coetsee en Rex. Foto verskaf

“Die polisie se forensiese eenheid het flitse waarmee hulle menslike vloeistof kan uitwys, maar Rex kan 50 vierkante meter in ’n halfuur dek,”

’n Bloemfonteinse polisiehond het ’n dienssertifikaat ontvang, maar van aftrede is daar nog nie geen sprake nie.

Die Skotse skaaphond Rex het in Januarie sy twaalfde verjaardag gevier. Sy hanteerder, ao. Christo Coetsee, praat met trots van sy hond wat nie net die titel van die oudste hond in die eenheid het nie, maar ook die enigste in die Vrystaat wat opgelei is in menslikevloeistofopsporing. Dit verg vyf maande van intensiewe opleiding.

 “Die polisie se forensiese eenheid het flitse waarmee hulle menslike vloeistof kan uitwys, maar Rex kan 50 vierkante meter in ’n halfuur dek,” sê Coetsee. Wanneer hy dan die bloed of semen ruik gaan lê hy plat op sy maag.

Rex gaan lê plat as hy bloed of semen ruik. Foto verskaf

Coetsee het in 1992 by die Marseilles-honde-eenheid naby Ladybrand begin werk waar hy tot 1999 was. “Tydens hierdie ampstermyn het ek die voorreg gehad om twee merkwaardige honde op te lei: Wolf en Danté.”

Met sy verplasing na Bloemfontein einde 1999, het Coetsee sy diens as hanteerder voortgesit wat in patrollie en plofstofopsporing spesialiseer. Ná Danté dood is, het hy die opleiding van Kimo as patrolliehond onderneem.

Christo Coetsee en Rex. Foto verskaf

Daarna het Coetsee ook vir Jessie opgelei. Hy is slegs een van 16 sulke hanteerders landwyd en een van twee in die Vrystaat. Hy en Jessie, wat sy eerste liggaamsvloeistof-opsporingshond was, het tot aan die einde van sy ampstermyn in die polisie in 2012 saamgewerk.

Hy het besef hy het ’n fout gemaak om uit die polisie te bedank nadat ’n speurder hom in 2013 gekontak het. Hy het hom vertel Jessie het ’n verdagte op ’n verkragtingstoneel uitgewys.

Hoewel hy meestal gruwelike tonele sien, hoofsaaklik ná ’n verkragting en/of moord, erken hy dis goed om te weet jou hond het die misdadiger(s) aan die pen laat ry. “Dit is ’n bittersoet werklikheid.”

Christo Coetzee en Rex maak ’n gedugte span. Foto verskaf

In 2016 is Coetsee heraangestel by die honde-eenheid in Bloemfontein en dis hier waar sy pad met toe sewejarige Rex gekruis het. Rex is oorspronklik van Sasolburg se honde-eenheid waar hy ook opgelei is, maar is later na Bloemfontein verplaas.

“Rex is oud, maar elke keer wat hy sy leiband aan het, weet hy dis tyd om te werk, en die meeste van die tyd stel hy nie teleur nie,” sê Coetsee, en vertel van ’n groot deurbraak onlangs waar Rex tien maande ná ’n moord bloed op die toneel uitgeken het. “Rex het twee moordenaars agter tralies gesit.”

Rex is nog lank nie lus om uit te tree nie. Foto verskaf

Die eenheid in Bloemfontein het tien honde, wat elkeen vir spesifieke take opgelei is. Onder hulle was ’n hond met die unieke vaardigheid om dagga uit te snuffel, maar hy is onlangs dood.

Coetsee en Rex het ’n spesiale band en wanneer Rex te oud word om te werk, sal hy met pensioen gaan. Sonder om twee keer te dink, vertel Coezee dat hy Rex dan sal aanneem omdat “hy soos een van my eie is”.

Coetsee, ’n groot diereliefhebber, het ook ses van sy eie honde.

OFM Nuus/Charné van der Merwe dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.