On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Central SA

Vrystaatse Voortrekkerplaas spog met nuwe kameelperdkalfie

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 11:03 Thu, 18 Apr 2024

Vrystaatse Voortrekkerplaas spog met nuwe kameelperdkalfie | News Article
’n Nuwe kameelperdkalfie op ’n plaas in die Vrystaat. Foto verskaf

“Die IUBN het reeds in 2016 kameelperde as ‘kwesbaar’ geklassifiseer op sy rooilys van bedreigde spesies om te verhoed dat hierdie spesie uitsterf.”

Daar is ’n nuwe kameelperdkalfie op ’n plaas in die Vrystaat, maar besoekers moet nog ’n rukkie wag om die kalfie van nader te beskou.

“Dis moeilik om naby die kalfie te kom omdat die kalfie nog skrikkerig is en die ma, wat 18 maande dragtig was, beskermend oor haar kleinding is,” vertel Willie Engelbrecht, die Voortrekkers se gebiedsleier, op die historiese Voortrekkerplaas Doornkloof.

Omdat die ma die kalfie eenkant hou, kan Engelbrecht nie bevestig of dit ’n bul- of ’n verskalf is nie, maar hy behoort binne die volgende maand te weet. Met geboorte weeg ’n kalf ongeveer 100 kg. Hulle word tussen ses en agt maande gespeen.

Die kalfie is vermoedelik rondom Menseregtedag in Maart gebore. Hulle weet nie presies wanneer nie, maar Engelbrecht vermoed dit was die nag van 21 Maart.

“Die kalfie is die oggend van 22 Maart deur ’n plaaswerker, Shadrak Quantana, ontdek toe hy sy roetinebewegings gedoen het. Die plaas het nou nege kameelperde, nadat ’n ander kalfie sowat ’n jaar gelede gebore is,” vertel hy.

“Kameelperde is een van die land se bedreigde spesies en om ’n kalfie ryker te word, is iets besonders. Ons is bevoorreg omdat die kameelperde gereeld op die plaas kalf.”

Die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur (IUBN) het kameelperde reeds in 2016 as ‘kwesbaar’ geklassifiseer op sy rooilys van bedreigde spesies om te verhoed dat hierdie diere uitsterf.

Doornkloof, wat ongeveer 50 km van Kroonstad is, is nou ’n kultuurplaas. Foto: Facebook

Die kameelperd staan bekend as die langste dier ter wêreld, met ’n hoogte van 5,5 m. Groot mannetjies kan ’n massiewe 1,2 t weeg, terwyl wyfies gewoonlik sowat 800 tot 900 kg weeg. Mannetjies, sowel as wyfies het kort horings wat met vel bedek is.

Die plaas spog ook met elande, blesbokke, beeste en sebras. Daar is nou ongeveer 160 diere op die plaas.

Doornkloof, wat ongeveer 50 km van Kroonstad is en oorspronklik aan die Voortrekkerleier Sarel Cilliers behoort het, is nou ’n kultuurplaas.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg/mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.