Click on the warning image to view this post
Local News
VIDEO: Driejarige deur Rottweiler aangeval─── 17:33 Tue, 06 Dec 2016
Hennenman - ‘n Driejarige seun van Hennenman is in ‘n ernstige toestand in die Mediclinic Welkom nadat hy vroeër vandag deur sy gesin se Rottweiler aangeval is.
Marko Slabbert was om 10:30 saam met die gesin se huishulp in die tuin terwyl sy besig was om wasgoed op te hang, toe die voorval plaasgevind het.
Sy pa, Francois Slabbert, was op daardie stadium nie tuis nie omdat hy na hul huisdokter moes jaag met Marko se sussie Liné, wat ‘n hoë koors gehad het.
Toe Francois die noodoproep van die huishulp ontvang, het hy nog nie eers die dokter bereik nie. Hy het omgedraai en terug huistoe gejaag.
“Dit is verskriklik om jou kind so te sien. Ek het my rewolwer gaan haal en die hond geskiet. Mense het nou baie daaroor te sê, maar enige persoon met ‘n kind sou dieselfde gedoen het.”
Francois sê Bruno, die Rottweiler, het tussen sy kinders grootgeword en hy het nog nooit enige aggressiewe tekens getoon nie. “Bruno het nog altyd geluister as Marko vir hom skree om op te hou en minder rof te speel.”
Francois vertel die vel op Marko se kop is van die skedel losgeskeur. Francois sê hulle was teen 11:00 al reeds by die hospitaal.
“Marko se wonde is geassesseer, skoongemaak en hy is op ‘n drup gesit. Teen 16:30 het die Slabberts nog gewag vir Marko om in die teater te gaan. Slabbert sê die hele familie is in skok na die voorval.
Maricelle Botha/OFM-nuus