Local News
Weerlig saai spoor van verwoesting in Bloemfontein─── KARIEN JORDAAN 13:52 Sun, 06 Nov 2016
Bloemfontein - 'n Massiewe weerligstraal, wat Olive Hill in die noorde van Bloemfontein Saterdagaand getref het, het 'n yslike spoor van verwoesting gelaat.
'n Inwoner, Jeremy O'Kennedy, het aan OFM-nuus gesê die oorverdowende slag is net ná 22:00 gehoor.
By nadere ondersoek het hy gesien dat drie volgroeide bloekombome op die plot langs syne, totaal en al vernietig is. Hy sê daar is niks van die drie bome, wat by die honderd jaar oud was, oor nie.
Die bome het as't ware 'ontplof' en stukke daarvan het soos missiele in alle rigtings gespat en in 'n radius van 80 meter grootskaalse skade aangerig. Verskeie huise en buitegeboue se mure is beskadig, gate is uit heinings geruk, en tot 400 teëls van net een huis se dak is tot niet.
O'Kennedy sê twee betonversterkte mure, naby die bome, is getref en stukke van dié mure het met verbysterende spoed rondgevlieg en nog verdere skade veroorsaak.
Inwoners in die omgewing berig dat die pad van verwoesting tot so ver as 2,5km van die aanvanklike impak sigbaar is.
Niemand is sover bekend in die voorval beseer nie.
OFM-nuus