Local News
Suidelike ringpad buite Bloemfontein vir verkeer gesluit─── CHRISTAL-LIZE MULLER 09:06 Tue, 28 Jun 2016
![Suidelike ringpad buite Bloemfontein vir verkeer gesluit Suidelike ringpad buite Bloemfontein vir verkeer gesluit | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/fr_201662891040.jpg?w=600&h=300&mode=crop&anchor=middlecenter&scale=both)
Bloemfontein - Die ringpad suid van Bloemfontein, wat die Reddersburg- en Dewetsdorp-paaie verbind by die Dinaweng informele nedersetting, is vir verkeer gesluit.
Lede van die Mangaung se verkeersdepartement blokkeer die pad aan weerskante en herlei verkeer na alternatiewe roetes.
Dit kom ná voortslepende betogings oor swak dienslewering en onder meer ontevredenheid oor ANC-kandidate wat vir die verkiesing aangewys is. Inwoners van dié informele nedersetting het gister 'n minibus en 'n afleweringsvoertuig aan die brand gesteek en die pad met klippe versper.
'n Inwoner het vanoggend aan OFM-nuus gesê die situasie was gisteraand omstreeks 22:00 buite beheer toe oproeriges 'n motor aan die brand gesteek het. Die situasie is egter vanoggend kalm.
Die uitgebrande wrakstukke staan steeds in die pad, met klippe wat op sekere plekke nog nie uit die pad verwyder is nie. Die polisie kon nog nie bevestig of enigiemand in hegtenis geneem is nie.