Local News
Derduisende Bloemfonteiners die naweek sonder water─── 14:19 Fri, 12 Feb 2016
![Derduisende Bloemfonteiners die naweek sonder water Derduisende Bloemfonteiners die naweek sonder water | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/fr_2016212142145.jpg?w=600&h=300&mode=crop&anchor=middlecenter&scale=both)
Verskaf
Bloemfontein - Die moontlikheid dat groot dele van Bloemfontein teen Sondag sonder water kan wees, is groot nadat 'n tweede ondergrondse pyp vroeg vanoggend gebars het.
Slegs ure nadat watertoevoer na die Brandkop-reservoir herstel is ná werk aan 'n hooftoevoerpyp, het 'n 1,2 meter pyp naby die Dewetsdorp-pad ook gebars. Dié pyp wat onder 'n plakkerskamp deurloop, het blykbaar daartoe gelei dat verskeie plakkershutte afgebreek moes word om toegang tot die pyp te kry.
Volgens 'n ingeligte hoop die Mangaung-metro om teen Sondagmiddag die pyp herstel te hê.
Woonbuurte wat onmiddellik geraak sal word, is Pellissier, Ferreira, Lourierpark en Bloemdal. Die gevaar bestaan egter dat verskeie ander reservoirs in die stad intussen kan leegloop, omdat daar tans geen watertoevoer is nie.
Watervlakke in verskeie reservoirs in die stad is blykbaar reeds baie laag.
Die metro kon nie vir kommentaar bereik word nie.
Earl Coetzee/OFM-nuus