Local News
Bakkie van vermoorde Rouxville-boer in Bloemfontein gevind─── CHRISTAL-LIZE MULLER 17:13 Fri, 29 Jan 2016
![Bakkie van vermoorde Rouxville-boer in Bloemfontein gevind Bakkie van vermoorde Rouxville-boer in Bloemfontein gevind | News Article](https://oscar.ofm.co.za/img/fr_2016129171451.jpeg?w=600&h=300&mode=crop&anchor=middlecenter&scale=both)
Cecelia en Bennie Cilliers/Facebook
Rouxville - ‘n Boer en mediese dokter van die distrik, wat op sy plaas buite Rouxville vermoor is, se bakkie, waarmee sy aanvallers vermoedelik op die vlug geslaan het, is verlate in Bloemfontein gevind.
Polisiewoordvoerder, Yanga Ngcukana, sê die bakkie is by ‘n taxi-staanplek in die stad gevind. Hy sê nog niemand is in verband met die aanval op dr. Bennie Cilliers en sy vrou Cecilia aangekeer nie.
Volgens hom het ‘n plaaswerker vanoggend omstreeks 09:30 op die egpaar in hul plaashuis afgekom. Die polisie is ontbied.
Cilliers is in die kop en bors gewond en op die toneel dood verklaar. Sy vrou, wat in die kop gewond is, is per lugambulans na die Mediclinic Bloemfontein gebring.
Hospitaalwoordvoerder, Amanda Appelgryn, sê Cilliers is in ‘n kritieke toestand in die hospitaal se trauma-eenheid. Volgens haar is Cilliers aan ‘n ventilator gekoppel. Sy het ‘n kopskietwond en veelvuldige ander beserings opgedoen.
Intussen het ds. Koos Möller van die NG kerk Rouxville Cilliers as ‘n vriendelike mens beskryf wat werklik vir sy pasiënte omgegee het.
OFM-nuus