Rugby
De Wet Barry tree uit─── 10:29 Thu, 19 Jan 2012
Port Elizabeth. – Ná byna 270 eersterangse rugbywedstryde – insluitend 39 toetse vir die Springbokke – is De Wet Barry gereed vir ’n nuwe uitdaging.
Barry (33) het Woensdag sy uittrede as speler aangekondig en gesê hy wil hom voortaan op afrigting toespits.
Hy het reeds as verdedigingsafrigter by die OP-Kings begin werk.
Dís ’n rol wat hy vir ’n groot deel van verlede jaar ook gespeel het terwyl hy met beserings gesukkel het.
“Dis seker nie hoe ’n speler wil groet nie.
“Dit sou mos lekker gewees het om ná ’n laaste groot wedstryd skouer-omhoog afgedra te word en ’n handdruk van jou spanmaats te kry,” het Barry met ’n skewe glimlaggie gesê.
“Dinge werk nou maar nie altyd só nie. Ek het in my agterkop bly hoop om nog een seisoen te speel, maar ek moes eindelik die werklikheid onder die oë sien.”
Die werklikheid is dat hy die afgelope twee seisoene deur twee ernstige skouerbeserings geteister is.
“My dokter het aanbeveel dat ek dit moet oorweeg om my stewels op te hang,” het Barry gesê.
Met sy kenmerkende entoesiasme doen Barry reeds sy deel in die Kings se afrigtingspan.
“In hierdie stadium het ek nie ambisies om ’n hoof-afrigter te word nie,” het hy gesê.
“Ek is heel tevrede om ’n ondersteunende rol te speel en aan my loopbaan as afrigter te bou.”
Barry sê daar was heelwat hoogtepunte in sy loopbaan as ’n speler.
“Ek was so gelukkig om drie wonderlike eerste jare as senior speler te beleef.
“In 1999 was ek in die SA o.21-span wat die Sanzar-toernooi gewen het en daarná was ek in die Westelike Provinsie-span wat twee jaar agtereenvolgens die Curriebeker verower het.”
Sy debuut in 2000 vir die Bokke was ook ’n hoogtepunt. So ook toe hy in 2004 vir die Stormers én die Bokke ’n goeie seisoen beleef het.
“’n Laagtepunt was dat ek in 2007 nie vir die Bokke se Wêreldbeker-span gekies is nie,” het Barry gesê.
Volgens Barry was dit vir hom ’n fees om saam met senters soos Robbie Fleck, Marius Joubert en Jean de Villiers te speel.
“My moeilikste teenstander was waarskynlik die gewese Wallaby-senter Tim Horan.
“Hy was ’n baie afgeronde speler, wat min foute begaan het,” het Barry gesê Tana Umaga en Aaron Mauger van Nieu-Seeland het hom ook altyd op sy tone gehou.
Barry se rekord as speler
Springbokke – Toetse: 39; Toerwedstryde: 3
Super-rugby – Stormers: 78; Bulls: 1
Provinsiaal – Westelike Provinsie: 78; OP-Kings: 29
Ander spanne gespeel: Barbarians, London Harlequins, Southern Kings, SA Technikon, SA o.23, SA o.21. - Sport24