On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

South Africa

Springbokke en Web Ellis-trofee besoek Kimberley

───   15:36 Fri, 03 May 2024

Springbokke en Web Ellis-trofee besoek Kimberley | News Article
Die Web Ellis-trofee kom kuier in Kimberley. Foto: James Williams

“Voor Kimberley was die eerste twee stoppe van die Trophy Blits in Gheberha en George. In daardie dorpe is gedemonstreer hoe passievol Suid-Afrikaners is oor die Bokke en rugby in die algemeen.”

Vandag het die Web Ellis-trofee ’n draai gemaak in Kimberley. Die Trophy Blitz het om 13:00 by die Diamond Pavillion winkelsentrum plaasgevind.

Malcolm Marx, Duane Vermeulen en Deon Fourie was die drie spelers wat SA Rugby verteenwoordig het. Ongelukkig kon Willie Le Roux, wat in 2012-2013 ’n speler vir die Griekwas was, nie op hierdie tydstip Kimberley toe kom nie.


Die Springbokke Duane Vermeulen, Malcolm Marx en Deon Fourie het die Web Ellis-trofee na Kimberley gebring. Foto: James Williams.

Voor Kimberley was die eerste twee stoppe van die Trophy Blitz in Gheberha en George. In daardie dorpe het inwoners gewys hoe passievol Suid-Afrikaners oor die Bokke en rugby in die algemeen is. Kimberley was geensins minder passievol om die spelers en die beker in die Diamantstad te sien nie.

Die aanhangers het hul opgewondenheid oor hierdie geleentheid getoon. Ray Gaborone het gesê: “Ek is bly dat die rugbytoer uiteindelik na die Noord-Kaap gekom het, want ons het nie die geleentheid gehad om die beker en die spelers op die vorige toer te sien nie.”

‘Hulle is so ’n inspirasie vir ons almal, en hulle gee ons hoop vir die toekoms’

Clifford Brown het gesê: “Dit is ’n seldsame geleentheid, en dit gee ons ook insig in die ervaring van die spelers.” ’n Ander aanhanger het gesê: “Hulle (spelers) is so ’n inspirasie vir ons almal, en hulle gee ons hoop vir die toekoms.” Arnold Showman het bygelas: “Ons is opgewonde vandag in Kimberley.”

Daar was ’n lang ry waar die ondersteuners ’n foto saam met die rugbyspelers wou neem en hul handtekeninge op hul T-hemde wou hê. Weens ’n gebrek aan tyd kon al die ondersteuners ongelukkig nie geakkommodeer word nie.

Die Springbokondersteuner gaan beslis nie gou sy arm was nie. Foto: James Williams

Vanaf die SA rugbytoer het ondersteuners vertrek na die Suzuki-stadion om ’n rugbywedstryd tussen die Griekwas en die Pumas te ondersteun wat om 14:30 sou begin.

Mark Alexander, president van SARU, het vroeër gesê: “Kimberley gaan hierdie naweek ’n miernes van bedrywighede wees, met baie skolespanne in aksie, sowel as die kragmeting tussen Griekwas en die Pumas.”

Hy het voortgegaan om te sê dat “die twee spanne in die Curriebeker-eindstryd van 2022 op dieselfde plek ontmoet het, en ons het destyds gesien watter groot aanhang rugby in die Noord-Kaap het.”

Ter afsluiting het hy die mense van die Noord-Kaap bedank vir hul ondersteuning van die Springbokke.

OFM Nuus/James Williams mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.