On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 Classic Sundays with Tony
Listen Live Streams

Central SA

Niemand nog vas ná grusame plaasmoord op bejaarde Vrystaatse egpaar

───   HEIDRÈ MALGAS 09:55 Mon, 06 May 2024

Niemand nog vas ná grusame plaasmoord op bejaarde Vrystaatse egpaar | News Article
Christo (76) en Christa (73) Morrison se liggame is naby hul huis gevind. Foto: Facebook

“Toe hulle die huis binnegaan, het die polisiebeamptes bloed op die vloer opgemerk en die huis was deurmekaar, maar die bejaarde egpaar was nie in die huis nie.”

Niemand is nog in hegtenis geneem nadat die liggame van ’n bejaarde egpaar met oop wonde op hul plaas naby Glen in die Vrystaat gevind is nie.

Christo (76) en Christa (73) Morrison se liggame is naby hul huis gevind. Christo se liggaam was 300 m daarvandaan en Christa s’n is in ’n septiese tenk op die plaas gevind.

’n Bekommerde buurman het die Glen-polisiekantoor Saterdag (4/5) genader nadat hy nie sy bure op hul selfoon kon bereik nie, sê Peter Kareli, Vrystaatse polisiewoordvoerder. “Met hul aankoms op die plaas het die polisie na die plaashuis gegaan en ontdek dat die deure oop was.


“Toe hulle die huis binnegaan, het die polisiebeamptes bloed op die vloer opgemerk en die huis was deurmekaar, maar die bejaarde egpaar was nie in die huis nie.”

’n Soektog na die verdagtes is van stapel gestuur, asook na die bejaarde egpaar aangesien hul liggame nie in die huis gevind is nie. “Tydens die soektog is hul voertuig, ’n Toyota Land Cruiser, naby Majwemasweu by Brandfort gevind,” sê Kareli.

‘Vrystaat Landbou betreur die wreedaardige moord’

Voorlopige ondersoeke het aan die lig gebring dat albei slagoffers oop wonde aan die bolyf opgedoen. Hulle is op die toneel dood verklaar. Gereedskap en elektroniese items is uit die huis gesteel. Die Glen-polisie ondersoek sake van huisbraak en moord.

Vrystaat Landbou veroordeel die wrede moorde ten sterkste. “Ons betuig ons innige meegevoel met die naasbestaandes en gemeenskap, en betreur die wreedaardige moord op ou en weerlose mense, wat gekies het om op die plaas te woon omdat dit hul huis en passie was,” sê Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis.


Sy sê die motief vir die moord is nog onbekend. “Vrystaat Landbou doen ’n ernstige beroep op die polisie om hierdie saak as ’n prioriteit te beskou.”

Dié aanval is een van vele gevalle wat toon dat die regering nie die politieke wil het om hierdie soort misdade te bekamp nie, sê Jan van Niekerk, Vrystaatse VF Plus-leier en self ’n boer. “Veiligheidsnetwerke moet versterk word om te verseker dat hierdie aanvalle voorkom kan word.”

Die reaksie van die polisie moet sodanig wees dat dit as ’n afskrikmiddel vir aanvallers dien, sê Van Niekerk.

‘Hierdie egpaar het nie verdien om so dood te gaan nie’

Die VF Plus simpatiseer met die naasbestaandes van die egpaar, “wat nie verdien het om deur hierdie hartseer te gaan nie”.

Op sosiale media spreek gebruikers hul verontwaardiging uit en betuig hul medelyde met die egpaar se naasbestaandes. “En so gaan die wreedaardige moorde maar net aan en aan,” skryf Anne-Marie Oosthuizen. “Ons regstelsel laat ons gruwelik in die steek. Hierdie egpaar het nie verdien om so dood te gaan nie.”

‘Wanneer gaan plaasmoorde en alle moorde ernstig opgeneem word?’

“Wanneer gaan dit eindig?” wil Vuyani KwaKhawuta weet. “Wanneer gaan plaasmoorde en alle moorde ernstig opgeneem word? Wie moet nog vermoor word voordat diegene wat die land beheer tot aksie oorgaan?”

Die ondersoek duur voort.

Enigiemand wat moontlik inligting het, word versoek om kol. Ben Bolsiek van die provinsiale eenheid vir ernstige en geweldsmisdade te bel by 082 466 8530, Stop Misdaad by 08600 10111, of ’n anonieme wenk te gee op die MySaps-app.

OFM Nuus/Heidrè Malgas cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.