On Now
Weekends 09:00 - 12:00
Classic Sundays Tony
NEXT: 12:00 - 16:00 Classic Sundays with Christie
Listen Live Streams

Central SA

Inwoners van Pellissier bekommerd oor sluiting van polisiekantoor

───   HEIDRÈ MALGAS 15:28 Fri, 03 May 2024

Inwoners van Pellissier bekommerd oor sluiting van polisiekantoor | News Article
Foto verskaf

“Op sosiale media spreek inwoners veral hul kommer uit oor die moontlike sluiting van die satellietkantoor te midde van onlangse drama waar besetters hulself aan grond in Lourierpark gehelp het.”

Inwoners van Pellissier en die omliggende suidwestelike uithoek van Bloemfontein is bekommerd oor hul veiligheid weens die beplande sluiting van die plaaslike polisiekantoor.

“Die casino en die Parkweg-polisiekantoor voer samesprekings om ’n polisiekantoor of sigbare polisiëring te vestig om ’n veiliger gemeenskap te bewerkstellig,” sê Thabo Covane, Vrystaatse polisiewoordvoerder.

Op sosiale media spreek inwoners veral hul kommer uit oor die moontlike sluiting van die satellietkantoor te midde van onlangse drama waar besetters hulself aan grond in Lourierpark gehelp het.

‘Vreemde dinge gebeur nou in die aanloop tot 29 Mei’

Op die sosialemediaplaftorm X sê @Madkooi dit is omdat sekere polisielede die opdrag om die besetters met rus te laat, geïgnoreer en hulle eerder verwyder het soos wat hulle veronderstel was. ’n Ander gebruiker, Thomas van Loggerenberg, sê: “Dit is verkiesingstyd, vreemde dinge gebeur nou in die aanloop tot 29 Mei.”

OFM Nuus het voorheen berig dat bekommerde inwoners video’s op sosiale media geplaas het van honderde gesinne wat onwettig grond langs Lourierpark en naby Pellissier in die suide van Bloemfontein beset het.

Wat baie inwoners die meeste ontstel, is die polisie en ander wetstoepassers se skynbare onvermoë om die grondbesetters te stuit. Die grondbesetters op hul beurt sê dat hulle reeds lank genoeg gewag het vir owerheid om erwe aan hulle toe te ken.

‘Die oplossing is beter polisiesigbaarheid en -aanwesigheid’

Daily Maverick berig dat swak polisiesigbaarheid en versuurde verhoudinge tussen die polisie en inwoners algemeen in woonbuurte landwyd voorkom. Aktiviste meen die oplossing is beter polisiesigbaarheid en -aanwesigheid.

Die publikasie het genoem dat die groot Kaapse township Khayelitsha weer in die nuus was ná die dood van elf mense in twee afsonderlike voorvalle binne ’n week. Volgens die Social Justice Coalition is swak sigbaarheid, ’n gebrek aan polisiehulpbronne, en ’n verswakte verhouding tussen die polisie en inwoners is die hoofredes vir die toename in misdaad.

Die boodskap wat uit hierdie woonbuurte voortspruit, is dat die regering hulle vergeet het. Gemeenskapsleiers waarsku dat indien minister Bheki Cele nie dringend optree nie, bejaardes, vroue en veral jong mense die swaarste getref sal word deur dwelm- en bendebaronne.

‘Ernstige personeeltekorte kniehalter die polisie’

Boonop rapporteer Polity dat 73,4% van die polisiekantore in die Vrystaat onderbeman is. Hierdie inligting volg ná die publikasie van die 2018/2019-misdaadstatistieke wat aandui dat seksuele misdrywe, onder ander misdaadvorme, in die provinsie met 36,8% toegeneem het.

In 2019 het die DA in die Vrystaat gesê: “Ernstige onderbemanning by SAPD-stasies belemmer ons polisie se vermoë om hul mandaat uit te voer om die publiek te beskerm. Van die polisie word daagliks verwag om ’n doeltreffende diens te lewer te midde van ’n ernstige gebrek aan hulpbronne en sulke uiterste personeeltekorte.

“Dit is voorts ’n nasionale bekommernis gegewe dat slegs 16,1% van alle Suid-Afrikaanse polisiekantore en 26,6% van Vrystaat-polisiekantore aan hierdie aanbevole wêreldstandaard voldoen. Dit is amper onmoontlik vir die polisie om hul werk te doen wanneer daar eenvoudig nie genoeg beamptes op patrollie is om die mense te beskerm wat hulle veronderstel is om te beskerm nie.”

‘Beter intelligensievermoëns sal lei tot vinniger en meer veroordelings’

Die party meen slegs wanneer die polisie voldoende hulpbronne het en hul kantore die nodige opgeleide personeel het, sal inwoners verhoogde sigbaarheid en reaksie van die polisie kry. Deur die polisie se intelligensie- en ondersoekvermoëns te verhoog, sal dit ook lei tot vinniger en meer veroordelings, met gevaarlike kriminele agter tralies, waar hulle hoort, en van die strate af.

As ’n plattelandse provinsie sal die Vrystaat ook grootliks baat vind by die DA se pleidooi vir gespesialiseerde landelike veiligheidseenhede om plattelandse en oorgrensmisdade te bekamp.

OFM Nuus/Heidrè Malgas mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.