On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse jong mense leer kuns van gholf by beroepspelers

───   HEIDRÈ MALGAS 12:37 Fri, 03 May 2024

Bloemfonteinse jong mense leer kuns van gholf by beroepspelers | News Article
Die afrigters en professionele gholfspelers (v.l.n.r.): Richard Maree, Bernhard Koster, Quintin Williams, Nico van Rensburg, Zinan Maimane en Edward Abrahams. Foto: Warren Hawkins

“Sedert Van Rensburg die inisiatief in 2021 begin het, het hy al vele suksesverhale gesien te danke aan die klinieke.”

Kinders van Bloemfontein is vandeesweek bekendgestel aan gholf toe klinieke by die Bloemfonteinse Gholfklub aangebied is om die land se volgende geslag gholflegendes te ontwikkel.

Nico van Rensburg, kommersiële bestuurder van die Ernie Els Groep en afrigter by gholfklinieke, het saam met Vuma gewerk om jong mense aan te moedig om gholf te speel.

Leerders van Tsoseletso Sekondêre Skool en Willem Postma Primêr, begunstigdes van die Vuma se Fibre-to-Schools-program, is uitgenooi om aan die geleentheid deel te neem.

Sedert Van Rensburg die inisiatief in 2021 begin het, het hy al vele suksesverhale gesien te danke aan die klinieke. Een daarvan is dié van Daniel Bennet, wat nie net verlede jaar die rekord vir o.19-seuns by die Nomads Suid-Afrika Kampioenskap verbeter het nie, maar ook in April die eerste plek in die Bolandse Amateurhouspel behaal het.

Zinan Maimane wys die leerders ’n ding of twee. Foto: Warren Hawkins

Zinan Maimane het ook sy merk deur die klinieke gemaak, en het onlangs die Gauteng-Noord-gholfunie (GNGU) Geslote A-Afdeling met vyf houe gewen. Op die ouderdom van 15 loop dié opkomende ster die spel storm, en droom daarvan om in die toekoms ’n internasionale beroepspeler te word.

“Ek hoop om eendag ’n beroepsgholfspeler op die PGA Toer te word en minstens een PGA Toer-geleentheid saam met enige van die majors te wen,” het Maimane gesê.

Van Rensburg het erken: “Ongelukkig kan gholf ’n duur sport wees om te speel. Ons het talle jong ongeslypte gholfdiamante in Suid-Afrika wat wag om ontdek te word. Hulle verdien ’n kans om die sport waarvan hulle hou, na te streef en hul drome te verwesenlik.

“Ons nooi kinders van alle agtergronde en lewensweë om deel te neem aan gholfklinieke, waar hulle by van die land se topafrigters kan leer, terwyl hulle ’n prettige dag saam met ander jong gholfspelers geniet, met hope kos en pryse.”

Die afrigters en gholfspelers. Foto: Warren Hawkins

Saam met die klinieke het die jong gholfspelers deurgaans toegang tot ondersteuning via ’n gholfafrigter-app. Dit stel hulle in staat om eenvoudig video’s van hul swaai en postuur op die platform te laai vir afrigters om te kyk en daarop terugvoer te gee.

Van Rensburg die Vuma-gholfklinieke in 2021 begin om só terug te gee aan die gemeenskap en die sport waarvan hy hou. Hierdie inisiatief, in vennootskap met die toonaangewende veselnetwerk Vuma, beoog om jong gholfspelers in wording wat reeds die talent het en wat professioneel gholf wil speel, maar nie toegang tot hulpbronne het of dit kan bekostig om voortdurend te speel nie, te identifiseer en te ondersteun.

Van Rensburg, saam met mense soos Richard Maree en Quinton Williams, sal afrigtingondersteuning bied aan ongeveer 50 jong spelers uit die gemeenskap.

OFM Nuus/Heidrè Malgas mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.