On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Central SA

Saak teen vyf mans van Noordwes uitgestel

───   HEIDRÈ MALGAS 11:55 Fri, 03 May 2024

Saak teen vyf mans van Noordwes uitgestel  | News Article

“Hulle het die seun se selfoon gebruik om die gesin te bel om ’n losprys te eis.”

Drie Mosambiekers en twee Suid-Afrikaners het in die landdroshof op Stilfontein en Orkney verskyn vir ontvoering, huisbraak, afpersing en die onwettige besit van vuurwapens.

Die saak teen Victor Fulane (29), Narciso Mabaso (34), Sfisso Ferrec (35), Zamokwakhe Majole (37) en Celso Lopez (38) is tot Maandag (6/5) uitgestel vir verdere ondersoek, insluitend die bevestiging van vier van die beskuldigdes se status in die land, sê Sabata Mokgwabone, Noordwes-polisiewoordvoerder.

Hul inhegtenisneming spruit uit ’n voorval toe vier gewapende mans Donderdag (25/4) by ’n huis in Uitbreiding 6, Khuma, ingebreek het. Nadat hulle na bewering ’n vrou gedreig het, het hulle glo R6 500 kontant gesteel. Hulle het haar 19-jarige seun ontvoer en ook sy selfoon gesteel.

OFM Nuus het voorheen berig die saak is by die polisie aanhangig gemaak. Hulle het die seun se selfoon gebruik om die gesin te bel om ’n losprys te eis. Met die hulp van gyselaarsonderhandelaars is die bedrag van die losprys verminder.

“Die polisie het gewag tot ’n man gesien is wat van ’n paneelklopper se werkswinkel gestap en die geld gevat en teruggehardloop het,” sê Mokgwabone,

‘Die staatsgeld wat as losprys gebruik is, is teruggekry’

Twee verdagtes is in hegtenis geneem. Die staatsgeld wat as losprys gebruik is, is teruggekry en beslag is gelê op ’n silwer Volkswagen GTI wat vermoedelik tydens die misdaad gebruik is.

Verdere ondersoeke het die polisie na Uitbreiding 3, Alabama, gelei waar twee mans uit ’n wit Toyota Camry geklim en weggehardloop het toe hulle die polisie sien. ’n Jaagtog het gevolg en die polisie het hulle aangekeer nadat een van hulle in die been geskiet is.

‘Die slagoffer is ongedeerd gevind’

“Die ontvoerde slagoffer se selfoon is in die voertuig gekry, terwyl die slagoffer ongedeerd in die kattebak van die Camry gevind is,” sê Mokgwabone. “Die beseerde verdagte is in die hospitaal onder polisiebewaking.”

By ’n huis in Uitbreiding 13, Kanana, het die polisie beslag gelê op twee pistole en ’n rewolwer waarvan almal se reeksnommers afgevyl is. ’n Verdagte is in hegtenis geneem op aanklag van die onwettige besit van vuurwapens.

“Die gesin se gesteelde Toyota Corolla is verlate gevind in Uitbreiding 2, Jouberton, naby Rex Flats,” sê Mokgwabone. “Die polisie moet nog bevestig of die Mosambiekse burgers wettig in die land is.”

OFM Nuus dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.