On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Laurika
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Bek-en-klouseer: Oproep tot verskerpte voorsorgmaatreëls in Vrystaat

───   18:52 Wed, 26 Feb 2025

Bek-en-klouseer: Oproep tot verskerpte voorsorgmaatreëls in Vrystaat | News Article
Foto: Animal Health Forum

Die Vrystaatse LUR vir Landbou, Elzabe Rockman, het boere en alle rolspelers in die veebedryf gemaan om verskerpte voorsorgmaatreëls teen bek-en-klouseer te implementeer.

Dit volg op die departement van landbou se Desember 2024-opdatering oor gevalle aangrensend aan die Vrystaat.

Volgens die Vrystaatse departement monitor hulle die hantering van die uitbreking deurlopend, veral in dorpe wat aan die Vrystaat grens. “Ons doen ’n dringende beroep op boere, afslaers en ander persone wat by die vervoer van vee betrokke is om bewus te wees van die risiko van bek-en-klouseer en om alle moontlike stappe te neem om die verspreiding van die siekte te voorkom,” het Rockman gemaan.

Memel-gebied onder spesiale waaksaamheid

Spesiale aandag word geskenk aan die Memel-gebied binne die Phumelela Plaaslike Munisipaliteit. Boere en ander rolspelers in hierdie streek word versoek om veral proaktief op te tree en biosekuriteitsmaatreëls te verskerp.

Die departement benadruk alle beweging van gesplete hoefdiere vergesel moet word van ’n veterinêre gesondheidsertifikaat wat bevestig dat die diere klinies vry van die siekte is. Verder moet die 28-dae-isolasietydperk ná beweging streng nagekom word, in ooreenstemming met die regulasies wat op 7 Oktober 2022 in die Staatskoerant (Vol 688 No 47263) gepubliseer is.

Die VF Plus het ook tydens ’n komiteevergadering in die Vrystaatse wetgewer daarop aangedring dat die landboudepartement dringend stappe moet doen om boere in die Memel-omgewing van moontlike bek- en klouseer te beskerm.

Beperking van dierebeweging noodsaaklik

Die departement herhaal die Desember 2024-aanbeveling van die nasionale landboudepartement dat alle veeboere in die land dierebeweging soveel as moontlik moet beperk. “Die inkubasietydperk van bek-en-klouseer is van kritieke belang. Gedurende hierdie tydperk kan diere die virus afskei sonder om enige kliniese simptome te toon,” het Rockman gewaarsku.

Bek-en-klouseer is ’n beheerde dierevirus ingevolge die Wet op Dieresiektes, 1984 (Wet No 35 van 1984). Enige verdagte kliniese simptome soos oormatige speekselafskeiding, blase in die bek, mankheid of hoefletsels moet onmiddellik by die plaaslike staatsveearts aangemeld word. Dié diere mag onder geen omstandighede geskuif word nie.

Die departement het bevestig dat alle beheermaatreëls, insluitend isolasie en bewegingsbeheer, deur veterinêre dienste afgedwing sal word om die verspreiding van die siekte te bekamp.

Intussen het die nasionale landboudepartement bevestig bek-en-klouseer kom steeds in KwaZulu-Natal voor. Beeste is by ’n dooptenk in Mtubatuba positief getoets nadat hulle in Desember kliniese tekens van die siekte getoon het.

Kliniese tekens van die siekte is ook die afgelope twee weke in distrikte rondom Vryheid en Newcastle waargeneem. “Laboratoriumtoetse het die teenwoordigheid van die FMD-virus bevestig, en verdere toetse is aan die gang om te bepaal of die uitbrekings deur die SAT1- of SAT2-stam veroorsaak is,” lui  ’n verklaring van die departement.

Beheermaatreëls binne die siektebestuursgebied bly onveranderd. Die betrokke dooptenks is onder kwarantyn geplaas, en inentingspogings duur voort.

“Hierdie uitbrekings beklemtoon die aanhoudende bedreiging van bek-en-klouseer en die noodsaaklikheid van streng beheermaatreëls om verspreiding te voorkom.”

OFM Agri cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.