On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Pluimveebedryf weer op dreef ná uitdagende jare

───   09:30 Wed, 11 Dec 2024

Pluimveebedryf weer op dreef ná uitdagende jare | News Article
Foto: Getty Images

In 2024 het die Suid-Afrikaanse pluimveebedryf ná ’n moeilike 2023 herstel begin toon.

Izaak Breitenbach, hoof- uitvoerende beampte van die braaikuikenafdeling by die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) deel uitdagings en suksesse van die afgelope jaar.

Hy beskryf 2023 as ’n uitdagende jaar wat gekenmerk is deur beurtkrag, verhoogde invoertariewe, voëlgriep en onregverdige handel. Hierdie faktore het die winsmarges van produsente ernstig aangetas. In 2024 was die fokus op herstel.

“Ons het begin sien hoe mielie- en sojapryse teen die einde van 2023 gedaal het, wat broodnodige verligting aan produsente gebring het,” verduidelik hy.

Een van die grootste struikelblokke was die voëlgriepuitbreking, wat na raming R9,5 miljard in verliese veroorsaak het en 30% van die nasionale pluimveebedryf geraak het. Ondanks hierdie krisis het SAPV aksie geneem om voedseltekorte en astronomiese hoendervleispryse te voorkom deur 285 miljoen bevrugte eiers in te voer en plaaslik uit te broei.

“Ons het ’n potensiële ramp afgeweer deur die hokke vol te hou, produksie te normaliseer en die slagproses aan die gang te hou,” sê Breitenbach.

‘SAPV werk nou saam met die regering om ’n entstof teen voëlgriep te ontwikkel’

Ondanks die uitdagings was daar ook merkwaardige prestasies. SAPV het 20 swart kontrakboere oor die afgelope vier jaar gevestig, elk met ’n belegging van sowat R45 miljoen per plaas.

Hierdie inisiatief het die bedryf verder bemagtig.

Voerpryse het aan die einde van 2023 begin stabiliseer, wat broodnodige wins herstel het. Daarbenewens is stappe gedoen om uitvoere na Europa, die Verenigde Koninkryk en Saoedi-Arabië te probeer uitbrei, en SAPV werk nou saam met die regering om ’n entstof teen voëlgriep te ontwikkel.

Breitenbach spreek hoop uit vir produsente en verbruikers. “Produksie het genormaliseer en hoendervleispryse het vir die verbruiker afgeneem. Ons werk hard om op die langtermyn goedkoop hoender op die tafel te sit.

“Dit was ’n moeilike tyd, maar ons bedryf het herstel en is sterker. Ons hoop produsente hou aan bou op die suksesse van 2024.”

SAPV bedank alle produsente en verbruikers vir hul ondersteuning. “Ons hoop almal geniet die feestyd en waardeer die werk wat gedoen is om hoë kwaliteit hoendervleis bekostigbaar te hou. Ons is verbind tot voortgesette sukses in 2025,” sê Breitenbach.

OFM Agri mvh

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.