Agriculture
AMT-ontleding: Graan- en vleistendense─── 09:24 Wed, 11 Dec 2024
Weerstoestande in die komende maande en beurtkrag kan ’n groot invloed op markte hê en produsente moet nou strategies beplan om uitdagings die hoof te bied terwyl die sektor se bydrae tot ekonomiese stabiliteit beskerm word.
Dr. Johnny van der Merwe van AMT vertel die rand het versterk tot R17,86 teenoor die Amerikaanse dollar, ondanks ’n afname van 0,3% in ekonomiese groei oor die derde kwartaal. Hierdie afname word ook toegeskryf aan die midsomerdroogte wat Suid-Afrika se graanproduksie in 2024 negatief beïnvloed het.
“Dit wys vir ons hoe belangrik die landbousektor, en meer spesifiek die graansektor, vir ekonomiese groei in Suid-Afrika is,” sê Van der Merwe en benadruk dat strategiese stappe nodig is om hierdie sektor te beskerm en sodoende voedselveiligheid en werkskepping te bevorder.
Die Brent-olieprys het gedaal tot $71,60 per vat, maar brandstofpryse bly hoog weens die onlangse swak wisselkoers. China se verminderde vraag het OPEC genoodsaak om pryse te verlaag, wat moontlik toekomstige dalings in brandstofpryse kan meebring.
Van der Merwe voeg by dat Rusland gerapporteer het dat 37% van die winterkoringoes van swak gehalte is, wat tot hoër koringpryse kon lei, maar internasionale pryse bly meestal stabiel. Weervoorspellings dui op gunstige toestande in Brasilië, wat druk op sojaboonpryse kan plaas.
Plaaslike graanmarkte:
- Witmielies: Spotprys op R6 280, Julie 2025-prys laer op R4 080 per t.
- Geelmielies: Spotprys op R5 767, Julie 2025-prys op R3 865 per t.
- Sojabone: Spotprys daal tot R9 092, met Mei 2025-prys op R7 655 per t.
- Sonneblom: Spotprys daal na R10 390, Mei 2025-prys op R9 630 per t.
“Verwagtinge is dat mieliepryse kan begin stabiliseer, maar die droogte in dele van Mpumalanga kan verdere onsekerheid veroorsaak,” sê Van der Merwe.
Lewende hawe:
- Beeste: Speenkalfpryse het gestyg na R33,48/kg, met ligter kallers op R32,48/kg en swaarder kallers op R32,60/kg. Slagkarkaspryse het verbeter, terwyl pryse ná Kersfees moontlik kan daal weens verminderde vraag.
- Skape: Slaglampryse styg tot R39,31/kg, terwyl stoorlampryse op R39,41/kg staan. Droogte in die Vrystaat en Noord-Kaap plaas druk op weidingstoestande.
- Varke: Pryse het skerp gedaal, met spekvark op R32,61/kg en worsvark op R25,19/kg.
Voermark
Die gemiddelde graad 1-lusernprys staan op R3 100/t, terwyl witmieliepryse druk op voerpryse plaas.
OFM Agri mvh