On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Classic Sundays Christie
NEXT: 16:00 - 19:00 All Request Sunday with Nikki
Listen Live Streams

Agriculture

Wintergewasse toon groei; positiewe verwagting vir koringproduksie

───   20:45 Thu, 26 Sep 2024

Wintergewasse toon groei; positiewe verwagting vir koringproduksie   | News Article
Foto: Getty Images

“Volgens die nuutste syfers van die Oesskattingskomitee word verwag dat die totale koringoes vir die seisoen 1,939 miljoen ton sal beloop.”

Die jongste produksieskatting vir die 2024-wintergewasse toon ’n toename in verwagte koringproduksie. Volgens die nuutste syfers van die Oesskattingskomitee word verwag dat die totale koringoes vir die seisoen 1,939 miljoen ton sal beloop, wat 1,86% (of 35 320 ton) meer is as die vorige skatting van 1,903 miljoen ton. Die verwagte opbrengs per hektaar vir koring is 3,84 ton.

Die Wes-Kaap, Suid-Afrika se grootste koringprodusent, lewer steeds die grootste bydrae met ’n verwagte oes van 1,104 miljoen ton, wat 57% van die totale oes verteenwoordig. Dit is 36 800 ton meer as die vorige skatting van 1,067 miljoen ton. In die Noord-Kaap bly die produksieskatting stabiel op 277 400 ton (14%), terwyl die Vrystaat se verwagte oes effens gestyg het na 227 850 ton (12%), in vergelyking met 227 500 ton in die vorige maand.

Die oppervlakteskatting vir koring is effens aangepas tot 505 300 hektaar, wat 1 000 hektaar minder is as die vorige skatting van 506 300 hektaar. Die Wes-Kaap het 368 000 hektaar beplant (73% van die totale oppervlakte), die Vrystaat 49 000 hektaar (10%), en die Noord-Kaap 38 000 hektaar (8%).

Ander wintergewasse

  • Gars: Die produksieskatting vir gars is afwaarts aangepas na 398 535 ton, ’n afname van 4,00% (of 16 600 ton) vanaf die vorige skatting van 415 135 ton. Die oppervlakte beplant met gars is 100 700 hektaar, met ’n verwagte opbrengs van 3,96 ton per hektaar.
  • Kanola: Die kanola-oes toon ’n sterk toename met ’n verwagte produksie van 294 645 ton, wat 10,87% (of 28 895 ton) meer is as die vorige skatting van 265 750 ton. Die geskatte oppervlakte vir kanola is 165 750 hektaar, met ’n verwagte opbrengs van 1,78 ton per hektaar.
  • Hawer: Die verwagte hawerproduksie vir die 2024-seisoen is 68 300 ton, met ’n geskatte oppervlakte van 31 000 hektaar en ’n opbrengs van 2,20 ton per hektaar.
  • Soetlupine: Die produksieskatting vir soetlupine bly op 19 200 ton, met ’n geskatte oppervlakte van 16 000 hektaar en ’n opbrengs van 1,20 ton per hektaar.

Die derde produksieskatting vir wintergewasse sal op 29 Oktober 2024 vrygestel word.

OFM Agri cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.