On Now
Weekends 05:00 - 06:00
Opstaan Anny
NEXT: 06:00 - 09:00 Weekend Breakfast with Gerben and Anny
Listen Live Streams

Agriculture

Voortdurende samewerking nodig om #FMD die hoof te bied

───   ELSABÉ RICHARD 05:00 Thu, 18 Aug 2022

Voortdurende samewerking nodig om #FMD die hoof te bied | News Article
FOTO: Sabrina Dean.

Die uitbraak van bek-en-klouseer hou ekonomiese gevolge in vir produsente.

Dit is volgens die ekonoom prof. Waldo Krugell van die Noordwes Universiteit. 

Hy het in sy weeklikse episode van "Die Ekonomiese Minuut", gedeel dat voortdurende samewerking onder meer nodig is om hierdie siekte hok te slaan. 

Sien onderstaande PODCAST

Krugell se kommentaar volg ná die nuus dat die Minister van Landbou op Dinsdag 16 Augustus aangekondig het dat as gevolg van bek-en-klouseer daar vir 21 dae 'n verbod ingestel is op die verskuiwing van beeste.

LEES OOK: Kommer dat mense #FMD versprei

Hierdie verbod beteken dat boere nie hulle beeste kan verskuif tussen weidings nie, en dat geen veilings kan plaasvind nie.

“Waar die kontantvloei dun is, gaan dit druk plaas op individuele boere, en vir die res van ons kan dit die verskaffingsketting van beesvleis ontwrig. Dit het verseker ekonomiese gevolge…”

LEES OOK: Bek-en-klouseer 'n 'astronomiese probleem'

Krugell deel verder dat voorsorg beter is as nasorg en dat ‘n goeie biosekuriteitpraktyk ‘n groot verskil kan maak in die verspreiding van bek-en-klouseer.

Hy raai aan dat in die geval van bek-en-klouseer is almal beter af as daar samewerking is om alles ontsmet te hou en gereelde inspeksies in krale uit te voer.

LEES OOK: Kommer oor winsmarges vir veebedryf

“In spelteorie is daar twee moontlike oplossings vir die dilemma: herhaalde samewerking waarin jy reputasie kan bou van die regte ding doen, en waar kansvatters gestraf word.

“Die alternatief is eksterne inmenging. In die bek-en-klouseer geval gaan dit vir die bedryf moeilik wees om al die rolspelers herhaaldelik te laat saamwerk, en om sanksies toe te pas teen dié wat nie die regte ding doen nie.

“Die eksterne inmenging is presies wat die regering gedoen het. Dit is ‘n stompinstrument met uiteenlopende gevolge, maar dit help om samewerking af te dwing,” sê Krugell.

OFM-nuus het vroeër berig dat die nasionale Departement van Landbou erkenning gee aan die pogings wat deur boere, gemeenskappe en nywerhede aangewend word om onwettige bewegings van beeste uit bekende bek-en-klouseer-positiewe gebiede te stuit, en om biosekuriteit op onder meer plase en voerkrale te verbeter.

Die departement het ook onthul dat gedurende die afgelope twee weke 15 nuwe eiendomme en twee nuwe provinsies deur bek-en-klouseer geraak is.

‘n Waarskuwing is aangekondig dat enige verontagsaming van die tydelike bewegingsverbod 'n kriminele oortreding is.

Die department sê wel dat die uitsondering slegs sal wees op veeartsenykundige permitte vir die beweging van beeste na die slagpale van geregistreerde abattoirs, sowel as vir slagting vir rituele doeleindes.

OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.