On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Verwagte kommersiële mielie-oes lyk goed

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 17:06 Thu, 27 Feb 2020

Landbounuus-podcast: Verwagte kommersiële mielie-oes lyk goed | News Article

Die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) se verwagte kommersiële mielie-oes, wat aansienlik meer is as die vorige seisoen se oes, is goeie nuus.


Die NOK het Woensdag sy eerste produksieskatting vir somergewasse en sy hersiene oppervlakteskatting aangekondig. Die verwagte kommersiële mielie-oes is meer as 14,5 miljoen ton, wat sowat 29,14% meer is as die 11,275 miljoen ton die vorige seisoen. Dr. Kobus Laubscher, 'n landbou-ekonoom, sê die goeie verwagte kommersiële mielie-oes bevestig opnuut dat goeie reën veral in die westelike en noordwestelike deel van die Vrystaat betyds gekom het. Opvolgreën het ook 'n bydrae gelewer. Hy sê die hersiene skatting van die oppervlakte onder mielies, is meer as 2,5 miljoen hektaar, wat ook meer is as die 2,3 miljoen hektaar wat verlede seisoen aangeplant is. Die geskatte opbrengs van mielies is 5,6 ton per hektaar. Daarmee saam toon die NOK se skatting die oppervlakte onder witmielies is bykans 1,6 miljoen hektaar, wat 'n toename van 22,94% is. Daarmee saam is die produksieskatting vir die kommersiële witmielie-oes 49,45% meer as die vorige seisoen. Meer geelmielies is ook aangeplant, en die produksieskatting is 9,48% meer as die vorige seisoen.

Die familieboerdery-organisasie, Saai, verwelkom sekere toewysings van geld deur Tito Mboweni, minister van finansies, in sy begrotingsrede. Francois Rossouw, uitvoerende hoof van dié organisasie, sê egter daar is ook aspekte wat kommer wek. Een daarvan is die feit dat Mboweni meer as 'n half miljard rand beskikbaar gestel het om grondeise te finaliseer. Hy sê dit is 'n duidelike aanduiding dat die regering toegewyd is tot die wysiging van Artikel 25 van die Grondwet wat voorsiening maak vir grondonteiening sonder vergoeding. Hy sê Saai is daarmee saam ook skepties oor dié klein begroting vir die finalisering van dié eise.

Daarmee saam meen Agri SA se Requier Wait, die minister van finansies, Tito Mboweni, het in sy nasionale begrotingsrede verstandige keuses gemaak om die regeringsbegroting te bestuur en die ekonomie te ondersteun. Hy sê dié begroting beklemtoon 'n hernieude fokus op die belangrikheid van die bevordering van ekonomiese groei. Planne om die loonrekening van die openbare sektor te sny, is ook in lyn met 'n strategie van fiskale konsolidasie. Volgens hom is die meer as R495 miljoen, wat toegestaan is om biosekuriteit te verbeter en Suid-Afrika se uitvoer te ondersteun, ook goed.

EN

Steeds by die nasionale begrotingsrede... Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB-landbou, meen daar heers redelike positiwiteit oor Tito Mboweni, minister van finansies, se begroting. Dít ondanks die uiters moeilike ekonomiese klimaat in die land. Hy sê die R500 miljoen wat voorlopig vir rampbestuur, insluitend vloede en die voortslepende droogte, deur die regering beskikbaar gestel is, is positief maar die implementering daarvan sal die ware toets wees.


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.