On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Organisasie meen begrotingsrede is van kardinale belang

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 15:47 Tue, 25 Feb 2020

Landbounuus-podcast: Organisasie meen begrotingsrede is van kardinale belang | News Article

Die Minister van Finansies, Tito Mboweni, staar ‘n moeilike uitdaging in die gesig wanneer hy sy begrotingsrede vandeesweek lewer.


Hy sal Woensdag bewys moet lewer dat hy tot fiskale konsolidasie verbind is in die konteks van ‘n omgewing wat gebuk gaan onder swak ekonomiese groei en beurtkrag. Dit is volgens Nicol Jansen, voorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid vir ekonomie en handel, wat meen Mboweni se begrotingsrede is van kardinale belang om 'n balans te vind tussen besteding om die Suid-Afrikaanse ekonomie aan die gang te kry, die behoud van die land se inkomstestrome, asook die beperking op die fiskus en besparingsmaatreëls om geldelik volhoubaar te wees. Hy sê in terme van landbou moet Mboweni in ag neem dat die Noord-Kaap en aangrensende dele van die Wes- en Oos-Kaap onder erge droogte gebuk gaan. Hy sê Agri SA gaan die begroting fyn dophou ten opsigte van Mboweni se plan met Eskom en die volhoubare bestuur daarvan, want elektrisiteit is 'n noodsaaklike produksie-inset vir landbou.

Die Vrystaat wag nog vir bevestiging van die polisie om die hersiende nasionale landelike beveiligingstrategie in dié provinise uit te rol. Dr. Jane Buys, 'n veiligheidsrisiko-ontleder by Vrystaat Landbou (VL), sê dié proses sal na verwagting in Maart en April in die polisie se gebiedskantore realiseer. Dié hersiende strategie is in Oktober verlede jaar bekendgestel. Dit kom nadat VL en die BKB-se veiligheidslessenaar se analise 'n toename in plaasaanvalle en -moorde toon. Buys sê 43 aanvalle het sedert 1 April tot 31 Desember verlede jaar op plase en kleinhoewes in die Vrystaat voorgekom. Daar was agt moorde in dié tydperk. In die mees onlangse plaasaanval tussen Soutpan en Glen is Mimie Jacobs, 'n kommersiële boer en sakevrou, deur drie mans met messe in haar plaashuis aangeval. Sy is vasgebind, maar kon daarin slaag om haarself te bevry en het hulp by 'n buurplaas gaan soek. Die landelike beveilingsplan is suksesvol in werking gestel. Nog niemand is sover bekend in hegtenis geneem nie.   

EN

Intussen toon AfriForum en die familieboerorganisasie, Saai, se statistieke vir plaasmoorde en -aanvalle 'n toename van 100 aanvalle op plase en kleinhoewes verlede jaar teenoor die vorige jaar. Dié statistieke is vanaf Januarie tot Desember. Die verslag toon moorde het verlede jaar 'n laer toename getoon teenoor die vorige jaar.  Daar was 552 aanvalle teenoor 433 aanvalle in 2018, terwyl daar 57 moorde op plase was teenoor 53 moorde die vorige jaar. Die meeste moorde, altesaam 11, het verlede jaar in die Vrystaat voorgekom. AfriForum se Ian Cameron sê dit is duidelik dat boere nou meer weerbaar is. Daarmee saam sê dr. Theo de Jager, direksievoorsitter van Saai en die president van die Wêreldlandbou-organisasie, hul resolusie om familieboerderye te beskerm sal by die Verenigde Nasies (VN) se algemene vergadering in September vanjaar voorgelê word. Daarin word die staat aangemoedig om misdade teen familieboere te beveg.


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.