On Now
Weekdays 23:00 - 23:59
Overnight Oscar
NEXT: N/A N/A with N/A
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Departement in die proses om stryd teen bek-en-klouseer te wen

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 18:07 Thu, 16 Jan 2020

Landbounuus-podcast: Departement in die proses om stryd teen bek-en-klouseer te wen | News Article

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling is in die proses om die stryd teen die uitbreking van bek-en-klouseer in die Molemole-gebied in Limpopo te wen.


Botlhe Modisane, woordvoerder virbek-en-klouseer by dié department, sê as daar nie vordering gemaak is en die departement nie in beheer is nie, sou daar meer eiendomme gewees het met besmette beeste. Volgens Modisane is daar nou altesaam 15 eiendomme, wat onder meer voerkrale insluit, wat geraak word. Hy sê die moratorium op die samekoms van spleethoewige vee vanaf meer as twee bronne geld steeds en veeveilings word tydelik verbied as 'n voorkomingsmaatreël om die verspreiding van bek-en-klouseer onder die diere te verhoed. Volgens Modisane is dit moeilik om spesifiek te sê wanneer dié tydelike verbod gelig gaan word.  Hy vra produsente om geduldig te wees en om moontlike voorvalle van bek-en-klouseer by hul naaste staatsveearts of 'n private veearts aan te meld.

Boere in die droogtegeteisterde Noord-Kaap, wat onlangs reën gehad het, hoop nou op opvolgreën wat noodsaaklik is vir veldgroei. Agri Noord-Kaap se president, Nicol Jansen, sê nadat dit kol-kol gereën het in die heersende snikhete toestande in dié provinsie, is daar nie 'n groot verskil in die veld se groei nie. Juis daarom hoop boere nou vir opvolgreën terwyl daar gebiede in dié provinsie is wat nog geen reën gehad het nie. Jansen sê intussen gaan dié organisasie volstoom voort met droogtehulpprojekte. Janse sê een daarvan is 'n uitreik na plaaswerkers wat onlangs suksesvol afgehandel is. Hy sê dit is ongelooflik om weerbare mense te ondersteun en daar is groot dankbaarheid vir organisasies en die breë publiek se rol in dié verband.

Intussen sê die humanitêre organisasie, Gift of the Givers (GOTG), hy het 'n 100%-sukseskoers behaal in die boor van boorgatein droogtegeteisterde gebiede in die Oos-Kaap. Ali Sablay, GOTG se woordvoerder, sê hulle het ook sukses behaal in Makhanda, Graaff-Reinet, Adelaide en Bedford, waar hul enigste bron van water uit boorgate kom. Dié organisasie verleen nou hulp aan die Ndlambe-munisipaliteit en verskaf sedert Maandag watertenkwaens aan dié droogtegeteisterde kusdorp.

EN

OFM moedig luisteraars aan om betrokke te raakby die onderskeie droogtehulpprojekte, wat ten doel het om landbou-gemeenskappe te ondersteun. OFM het 'n webblad geskep waarop luisteraars inligting oor die droogtesituasie in die sentrale binneland en in ander provinsies kan verkry en skenkings kan doen. Skakels van organisasies, soos Agri Noord-Kaap se droogteramphulpfonds, is op hierdie OFM-blad beskikbaar. Gaan na ofm.co.za, kliek op die Agri Aid-banier op die tuisblad. 


OFM-nuus



@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.