On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Agri SA stel nuwe waarnemende president aan

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 15:07 Mon, 09 Dec 2019

Landbounuus-podcast: Agri SA stel nuwe waarnemende president aan | News Article

Die uitdagings wat Suid-Afrika se landboubedryf in die gesig staar, is onveranderd en bly steeds van groot belang vir Agri SA, al het dié organisasie se stuurman bedank.


Dit is volgens Piere Vercueil, die waarnemende president van Agri SA, nadat Dan Kriek, wat vir twee jaar in dié posisie was, verlede week onverwags bedank het. Kriek het glo ná deeglike oorweging besluit om weens gesondheids- en stresverwante redes uit te tree. Vercueil sal ingevolge Agri SA se Grondwet as waarnemende president optree totdat dié organisasie se jaarkongres in Oktober volgende jaar plaasvind. Vercueil sê Kriek het 'n belangrikie rol gespeel om Agri SA as 'n invloedryke organisasie te posisioneer, en daar gaan voorgebou word daarop, terwyl uitdagings steeds aangepak word.  Vercueil sê Agri SA volstaan by die standpunt dat die grondwetwysiging oorbodig is weens die feit dat grondhervorming in Suid-Afrika onsuksesvol was weens die toepassing en die uitvoering daarvan. 

Die polisie in die Vrystaat soek na vier vermeende veediewe nadat 'n plaaswerker van die plaas Steynshoek by Bothaville en sy vriendin in hul huis aangerand is. Polisiewoordvoerder, Motantsi Makhele, sê ná die aanval het die booswigte met skape ter waarde van R37 500 op die vlug geslaan. Hy sê die slagoffer is om middernag op die plaas oorrompel. Makhele sê die polisie ondersoek 'n klag van huisroof. Volgens hom is die boer en sy vriendin nie ernstig beseer nie.

Intussen sê Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse Wetgewer, daar is groot kommer oor geweld in landelike gebiede, wat met aanvalle op plase en kleinhoewes, gepaard gaan. Dit hou ook groot ekonomiese koste vir die landboubedryf in. Slegs in die Vrystaat kos misdaad boere na raming gemiddeld tussen R300 000 en R500 000 per jaar. Daarmee saam sê Jankielsohn boere en hul werknemers word verder deur die droogte, verhoogde brandstof asook die prys van elektrisiteit geraak. 

Boere in die Potchefstroom-gebied wag nou angstig om voort te gaan met onder meer mielie-aanplantings, nadat dit die afgelope week goed gereën het. Agri Potchefstroom se voorsitter, Christo de Wet, sê in dié distrik het dit sedert verlede week gemiddeld tussen 120 mm en 140 mm gereën. 

EN

Daarmee saam voorspel die Bloemfonteinse Weerkantoor 'n 60%-kans op reën wat Dinsdag in die grootste gedeelte van die Vrystaat en Noordwes kan voorkom. 'n Weervoorspeller, Michael Nethavani, sê daar is ook 'n goeie kans op reën in die oostelike gedeelte van die Noord-Kaap. Waarskuwings vir verwagte donderstorms by Douglas en Kuruman is uitgereik. 'n Verdere waarskuwing is vir Noord-Kaapse gebiede aangrensend aan die Vrystaat en Noordwes uitgereik, waar swaar donderweer, hael en sterk wind verwag word. Kitsvloede kan in die oostelike gedeelte van Noordwes voorkom, wat Rustenburg, Lichtenburg, Ventersdorp en Potchefstroom insluit. 

OFM News

 

 

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.