On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: 14 000 beeste toets positief vir bek-en-klouseer

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 11:40 Thu, 05 Dec 2019

Landbounuus-podcast: 14 000 beeste toets  positief vir bek-en-klouseer  | News Article

Sowat 14 000 beeste op altesaam 11 kommersiële eiendomme in Limpopo het positief vir bek-en-klouseer getoets.


Dit sluit sewe eiendomme in die Capricorn en onderskeidelik twee eiendomme in die Mopane en Vhembe munisipale distrikte in. Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling en betrokkenes in die rooivleisbedryf sê in 'n mediaverklaring van dié eiendomme waarop besmette diere in kwarantyn aangehou word, is daar vyf voerkrale en altesaam ses kommersiële teelplase. Al dié eiendomme wat geraak is, is direk of indirek gekoppel aan beeste wat op veilings verkoop is. Volgens die landboudepartement se woordvoerder, Reggie Ngcobo,  word verdere opvolgondersoeke en proefnemings gedoen om die omvang van die uitbreking te bepaal. Landbouminister, Thoko Didiza, het ook 'n nasionale verbod op die versameling van spleethoewige diere geplaas. Dié inligting is op die departement se webtuiste beskikbaar.  


Daarmee saam sê dr. Pieter Vervoort, besturende direkteur van die Nasionale Dieregesondheidsforum, dit is belangrik om daarop te let dat nie slegs veilings oor die land heen tydelik verban word nie. Hy sê die bymekaarkoms van spleethoewige diere, wat van meer as een bron afkomstig is, word nie toegelaat nie. Geleenthede waar diere op skou is en vir spekulatiewe doeleindes byeen is, is ook taboe.  Vervoort,  wat ook op die nasionale tegniese taakspan dien met betrekking tot die bek-en-klouseer uitbreking in Limpopo, sê die departement het aanvanklik 'n tydelike verbod op veilings in dié provinsie asook aangrensende provinsies soos Mpumalanga, Gauteng en Noordwes geplaas. Dit het egter daartoe gelei dat produsente hul diere, hoofsaaklik beeste, na ander provinsies, soos die Vrystaat, vervoer en gaan aanbied het.

EN

Geen van die 20 damme in die Vrystaat se vlakke is 100% vol nie. Die Departement van Water en Sanitasie se verslag  oor die stand van damvlakke in Suid-Afrika op 11 November vanjaar, toon altesaam 13 damme in dié provinsie is tussen 50% en 100% vol, terwyl sewe damme se vlakke onder 50% is. Die Fika Patsodam, 'n rotsvuldam in die Namahadi-rivier, naby Phuthaditjhaba, se damvlak is kritiek laag. Dié inligting is vandeesweek deur Minister Lindiwe Sisulu op 'n mediakonferensie bekendgestel. Dít vorm deel van die departement se meesterplan vir water en sanitasie. Sisulu het gesê daar is altesaam 24 dorpe en omliggende gemeenskappe in die Vrystaat wat deur droogtetoestande geraak word, maar daar is ingegryp deur die regering en in 2019/2020 is die waarde van die bestaande droogteprojekte meer as R490 miljoen.  



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.