On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Meesterplan van Departement ontvang gemengde reaksie

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 13:42 Mon, 02 Dec 2019

Landbounuus-podcast: Meesterplan van Departement ontvang gemengde reaksie | News Article

Die Departement van Behuising, Water en Sanitasie se langverwagte nasionale meesterplan vir water en sanitasie, is met gemengde reaksie ontvang.


Dit kom nadat Minister Lindiwe Sisulu verlede week dié plan bekendgestel het. Dit handel oor 'n medium- en langtermyn-strategie om watersekerheid vir alle Suid-Afrikaners te beskerm. Janse Rabie, Agri SA se hoof van natuurlike hulpbronne by dié organisasie se Sentrum van Uitnemendheid, sê dié organisasie is veral bemoedig deur die departement se hernude pogings om met ander instellings saam te werk. Hy verwys na dié departement se poging om saam met die Departement van Openbare Werke en Infrastruktuur te werk. Daar is ook beplande skakeling met die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regeringsvereniging (Salga) om kwessies oor die verval van infrastruktuur en watergehalte aan te spreek. Rabie sê die landboubedryf is die grootste verbruiker van rou water en produksie is grootliks afhanklik van die beskikbaarheid en gehalte daarvan.  

Afriforum het die Minister van Behuising, Water en Sanitasie, Lindiwe Sisulu, se meesterplan vir water, wat miljarde rande gaan beloop, verwelkom. Daar is egter verskeie aspekte wat eers aandag moet geniet. Dit is volgens Lambert de Klerk, bestuurder van omgewingsake by dié burgerregte organisasie, wat meen dit is goed dat Sisulu dié plan bekendgestel het, maar die bestaande probleem in die regering rakende wanbestuur weens 'n kultuur van geen aanspreeklikheid, moet uitgesorteer word. Hy sê Sisulu moet eers op praktiese aspekte fokus voordat dié meesterplan in plek gestel word.  Volgens De Klerk moet daar ook meer gefokus word op waterlekkasies en besoedeling in stede en dorpe, omdat kosbare water in Suid-Afrika, wat reeds 'n waterskaars land is, vermors word. Daar moet teen munisipaliteite opgetree word wanneer water vermors word.  

EN

Die nasionale landboudepartement is in die proses om diere in sommige gebiede in Limpopo en Mpumalanga in te ent. Dit kom ná die jongste uitbreking van bek-en-klouseer in 'n beeskudde in die Molemole munisipale distrik. Dié besmette beeste was van 'n veiling afkomstig en het daarna na verskeie plase versprei. Botlhe Modisane, tegniese woordvoerder van bek-en-klouseer by die departement, sê die diere word nou op plase aangehou, waarvan die meeste voerkrale is. Dié plase is onder kwarantyn geplaas. Hy sê die inentingsproses vind in gebiede plaas wat afgesper is en beeste wat in gevaar is en nie noodwending bek-en-klouseer het nie, word nou ingeënt.  
Hy sê dit is nie raadsaam om besmette diere te slag nie, want dié virussiekte kan versprei, maar diere wat van bek-en-klouseer herstel het, is veilig om geslag te word. Alle vleis kan egter nie verbruik word nie. Dit moet ook bevrore vleis wees.


OFM-nuus

 

 



@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.