On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben and Anny
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Nolwethu
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: TLU SA spreek hom uit oor beweerde bedrog

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 17:51 Thu, 07 Nov 2019

Landbounuus-podcast: TLU SA spreek hom uit oor beweerde bedrog | News Article

Die Transvaalse Landbou-unie, TLU SA, het hom sterk uitgespreek oor aantuigings deur Mark Paulsmeier, die stigter en voormalige president van die Global Association of Billionaires and Millionaires (GABM), oor 'n beweerde bedrogspul.


Paulsmeier het op sosiale media uitgevaar teen onder meer TLU SA, wat glo saam met nog 'n Suid-Afrikaanse landbou-organisasie en 'n mediahuis meer as $100 miljoen, wat aan plaaslike boere vir droogtehulp beskikbaar gestel moes word, na bewering gebuit het. TLU SA se president, Louis Meintjes, sê die droogtehulp is deur GABM aan TLU SA in die vorm van effekte verskaf en dit moes in geld omgeskakel word. Hy sê dié kwessie is egter in die stadium sensitief, omdat daar 'n hofgeding rakende 'n aanklag van crimen injuria aan die gang is. Meintjes sê TLU SA is 'n getuie in die hofgeding en hy wil hom nie verder uitlaat oor die kwessie nie.  Volgens inligting het Tim Scott, 'n makelaar van New York, na bewering in 'n beëdigde verklaring erken dat hy deel was van dié beweerde bedrogspul. OFM-nuus weerhou die landbou-organisasie en mediahuis se naam totdat hulle kommentaar gelewer het.

Droogtetoestande in die grootste deel van die Noord-Kaap vererger daagliks en daar is nie goeie vooruitsigte vir reën in dié provinsie die komende week nie. Tonie Rossouw 'n senior voorspeller van die Bloemfonteinse weerkantoor sê daar is egter 'n goeie kans op reën in die oostelike deel van die land, wat Noordwes insluit, oor die naweek, met reënval wat in die noordelike deel van die Vrystaat kan voorkom. Hy sê enkele buie kan in die westelike deel van die Vrystaat voorkom, maar die kans op goeie reën in die verre westelike deel van dié provinsie is gering. Volgens Rossouw sien die langer termyn voorspellings vir reën in die sentrale binneland en veral die Noord-Kaap egter beter daarna uit. Bo-normale reënval word later vandeesmaand, Desember en Januarie volgende jaar verwag.

EN

Met droogtetoestande wat in verskeie provinsies oor die land heen, insluitende die Noord-Kaap, voortduur het OFM se Pieter Möller, 'n bekende in landboukringe, besluit om bewustheid te kweek oor die toestand waarin boere weens die droogte verkeer. Möller neem eerskomende Saterdag aan OFM se Music Marathon in Bloemfontein deel. Vir meer inligting oor OFM se Music Marathon besoek ofm.co.za.


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.