On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: VS beleggingsprospektus die week bekend

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 17:48 Tue, 22 Oct 2019

Landbounuus-podcast: VS beleggingsprospektus die week bekend | News Article

Die Vrystaatse provinsiale regering sal na verwagting Donderdag sy Vrystaatse beleggingsprospektus vir 2019 in Bloemfontein bekendstel.


Dít sal op 'n beleggingskonferensie van die Departement van Ekonomiese en Kleinsakeontwikkeling, Toerisme en Omgewingsake in dié provinsie plaasvind. Dié departement se woordvoerder, Kgotso Tau, sê dié konferensie is op die verhoging van die Vrystaat se ekonomiese groeikoers gemik, deur buitelandse asook plaaslike beleggings in sektore soos onder meer landbou te lok. Hy sê die Vrystaatse beleggingsprospektus is 'n gids wat aandui hoeveel projekte gereed is vir beleggings met 'n groot impak in die provinsie, wat beleggers kan lok. Dié beleggingsprospektus vorm deel van president Cyril Ramaphosa se plan om internasionale en plaaslike beleggings in die land te vestig.

Daarmee saam skud leiers van plaaslike en internasionale ondernemings en die beleggingsgemeenskap vere reg vir die tweede Suid-Afrikaanse Beleggingskonferensie wat volgende maand plaasvind. Dié konferensie is gemik daarop om ekonomiese groei te bevorder en vertroue in die land se ekonomie te verhoog. Dit kom nadat president Cyril Ramaphosa in 2018 aangekondig het dat daar beoog word om R1 200 miljard se nuwe beleggings teen 2023 in die land te mobiliseer. Die eerste konferensie is in Oktober verlede jaar gehou, met 'n bydrae van R300 miljard se beleggings. Die Minister van Handel en Nywerheid, Ebrahim Patel, het vandeesweek tydens 'n media-inligtingsessie in Kaapstad gesê Suid-Afrika is oop vir beleggings en groei. Die tweede konferensie vind vanaf 5 tot 7 November in Johannesburg plaas.

EN

Die vooruitsigte vir reën in die komende ses weke is nie gunstig nie. Johan van den Berg, 'n klimatoloog van Santam Landbou, sê dit is weens 'n tekort aan vog in die lug. Hy sê in terme van vogtoestande kan 'n verandering in die tweede week van November plaasvind, maar enkele reën slegs in die verre sentrale en oostelike deel van die land word verwag. Hy sê toestande in die Indiese Oseaan is uiters ongunstig met baie warm water langs die Afrika-kuslyn by Tanzanië. Dit dui op laagdrukstelsels wat ontwikkel en vog beweeg dan nie suidwaarts nie. Hy sê daar is egter hoop op goeie reën teen Desember en in Januarie in die sentrale en westelike deel van die land.



OFM-nuus


@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.