On Now
Weekdays 19:00 - 23:00
OFM Nights Ashmund
NEXT: 23:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Geelmielie stroopproses reeds ver gevorder

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 12:20 Mon, 02 Sep 2019

Landbounuus-podcast: Geelmielie stroopproses reeds ver gevorder | News Article

Die stroopproses van geelmielies in produsiegebiede soos Mpumalanga en die Oos-Vrystaat is al ver gevorder met meer as 94% van die land se geskatte oes wat gelewer is.


Daarmee saam is dié proses in die sentrale binneland ook aan die gang, maar in gebiede soos die noordwestelike deel van die Vrystaat is produsente later met die stroopproses as in vorige seisoene. 'n Landbou-ekonoom van Graan SA, Luan van der Walt, sê met betrekking tot witmielies is meer as 79% van die geskatte oes al gelewer  teenoor die gemiddeld vir lewering dié tyd van die jaar wat 87% is. Hy sê dit kan toegeskryf word aan die seisoen wat later as gewoonlik begin het weens laat reën en droogtetoestande. Volgens Van der Walt ondervind produsente ook probleme met die graad van witmielies wat gelewer word.

Die regering se poging om die Grondwet te wysig en meer spesifiek Artikel 25, wat voorsiening maak vir die onteiening van grond sonder vergoeding, word toegeskryf aan politieke druk met 'n radikale aanslag. Agri Noord-Kaap se president, Nicol Jansen, sê dit is 'n radikale gedagte wat daartoe gelei het dat die proses aan die gang gesit is. Hy meen dié grondwetwysiging is geensins tot voordeel van die opkomende sektor nie en dié organisasie volstaan daarby dat 'n grondwetwysiging nie tot die werklike verbetering van die situasie in die land gaan bydra nie. Volgens Jansen is dit nog nêrens uitgewys dat die Grondwet die beperking op transformasie is nie.

EN

Agri SA is positief oor die Nasionale Tesourie se nuwe beleidsdokument om ekonomiese groei op dreef te kry. Dit spreek verskeie beleidsuitdagings en strukturele kwessies aan en landbou is goed geposisioneer om uitvoering te gee aan die voorstel dat dié bedryf die dryfveer vir werkskepping is. Só meen  Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van dié organisasie, nadat dié dokument verlede week deur die tesourie op sy webblad gepubliseer is. Die verwagting in die dokument is dat Suid-Afrika se ekonomiese groeikoers in die volgende dekade met 2,3% per jaar kan toeneem. Daarmee saam kan meer as 'n miljoen bykomende werkgeleenthede geskep word as die departement se ekonomiese groeistrategie in plek gestel sou word.



OFM-nuus




@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.