On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Minister neem standpunt in oor pluimveebedryf

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 14:52 Mon, 26 Aug 2019

Landbounuus-podcast: Minister neem standpunt in oor pluimveebedryf | News Article

Die Minister van Handel en Nywerheid, Ebrahim Patel, het duidelik standpunt ingeneem oor onregverdige handel in die pluimveebedryf wat met die instelling van tariewe en handelsooreenkomste gereguleer moet word.


Dít is onlangs op 'n vergadering tussen betrokkenes in die bedryf, asook die Minister van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling, Thoko Didiza, bespreek. 'n Gesamentlike program is saamgestel om die pluimveebedryf in Suid-Afrika te ontwikkel, terwyl ander bedrywe ook daarby baat. Die hoofbestuurder van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging, Izaak Breytenbach, sê dié vergadering was bevorderlik vir die bedryf in geheel. Hy sê dié gesamentlike program fokus op die uitbreiding van die plaaslike hoendermark sodat die Suid-Afrikaanse bedryf meer mededingheid kan wees, en meer produkte na Afrika-lande en die Europese Unie (EU) uitgevoer kan word. Die storting van bevrore hoenderprodukte van lande soos Brasilië en Amerika het 'n negatiewe impak op die plaaslike ekonomie en werkskepping lei daaronder. Daarom word 'n aansoek nou voorberei teen Brasilië wat bevrore hoenderporsies in Suid-Afrika stort. Breytenbach sê daar is ook reeds teenstortingstariewe teen Duitsland en Nederland in plek.

Die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling spits hom nou toe om die verspreiding van Afrika-varkpes in die Suid-Afrika doeltreffend en vinnig te bestuur. Landbouminister, Thoko Didiza, het onlangs op 'n vergadering met onder meer die LUR'e van landbou in Noordwes, Gauteng en Mpumalanga, gesê die departement gaan die ministers van finansies, Tito Mboweni, en samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Nkosazana Dlamini-Zuma, betrek om die uitdaging aan te pak. Die landboudepartement se Reggie Ngcobo sê 'n taakspan is ook saamgestel om die verspreiding van varkpes na ander provinsies te voorkom. Hy sê voorvalle van varkpes onder huishoudelike varke is in die gebiede Marikana, Daveyton, Delmas en Siyabuswa in dié provinsies aangemeld.

Daarmee saam word bewustheid onder varkboere gekweek om die verspreiding van Afrika-varkpes onder huishoudelike varke in Noordwes, Gauteng en Mpumalanga te voorkom. Die gebiede word gemonitor. Die uitbreking van Afrika-varkpes is onlangs ook by Koppies en Heilbron in die Vrystaat aangemeld. 'n Veearts en hoof van verbruikersversekering by die Suid-Afrikaanse Varkprodusente-organisasie, Savpo, sê die virus is beperk tot die gebiede en varkveilings word steeds verbied om die verspreiding daarvan te voorkom. Hy sê geen voorvalle van Afrika-varkpes is sover op kommersiële varkplase in dié provinsie aangemeld nie.

EN

Kleinskaalse boere moet minder konvensionele boerderye met laer insetkoste oorweeg, soos om met konyne te teel. Dawie Maree, hoof van landbou-inligting en bemarking by FNB, sê om met konyne en hase te boer is minder veeleisend, terwyl dit maklik is om te onderhou en minder grond en hulpbronne benodig. Die diere groei en vermeerder vinniger. Dit neem konyne 90 dae om 'n produksiegewig van 3,5kg te bereik. Hy sê binnelandse verbruik van konynvleis is tans onder 20% teenoor meer as 80% verbruik van die vleis wat gemik is vir die uitvoermark.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.