On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: NK boere verminder hul veekuddes weens droogte

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 15:10 Tue, 12 Feb 2019

Landbounuus-podcast: NK boere verminder hul veekuddes weens droogte  | News Article

Brandbestryders kon nog nie 'n brand in 'n silo waarin sonneblomsaad geberg word by Allanridge in die Vrystaat blus nie, weens die beskadigde struktuur daarvan.


Strukturele ingenieurs moet nou eers vasstel of die brandende silo se struktuur, wat baie krake het, stewig en veilig is voordat dit geblus kan word. Dié silo behoort aan 'n  landboubesigheid. Francois Klaassen, assistent brandweerhoof van die Majhabeng-munisipaliteit se brandweerdiens, sê hulle is omstreeks 14:15 na die toneel ontbied en mense is van die brandende silo, wat nie vol sonneblomsaad was nie, verwyder.


Hy sê die brandbestryder,  Mandla Mtebela, word in 'n plaaslike hospitaal se hoësorgeenheid behandel nadat die dak van 'n brandende silo - waarin graan geberg word - op hom ineengestort het. Mtebela het tweedegraadse brandwonde aan sy arms en bors opgedoen. Sy nek en rug is ook beseer. Klaassen sê water kon nie gebruik word in die brandbestrydingspoging nie.


Die oorsaak van die brand is onbekend.


Boere in erge droogtegeteisterde gebiede in die Noord-Kaap moes noodgedwonge hul veekuddes aansienlik verminder weens 'n tekort aan water en weiding. Brand du Toit, voorsitter van die Williston-landbouvereniging, sê boere in die gebied begin nou om hul teelkuddes te verkoop sodat hulle veevoer kan bekom in 'n poging om van hul kuddes te behou. Hy sê boorgate het ook opgedroog.

Danie Jacobs, voorsitter van Agri Namakwaland, sê boere in dié gebied boer met 50% minder vee as die toegelate drakrag van hul plase. Kommersiële en opkomende boere trek nou swaar weens die droogte,  wat al in 2009 in dié gebied begin het. Jacobs, wat tussen Springbok en Pofadder boer, sê dié distrik het in 2011 en 2012 'n ondergemiddelde reënseisoen gehad en daarna het die reën in die grootste gebiede weggebly. As dit gereën het, was dit kol-kol en glad nie genoeg vir die veldgroei nie. Hy sê 8mm reën is die meeste wat die afgelope naweek in dié gebied gemeet is. Daar het slegs 'n paar druppels geval, wat tot sy honde op hol gehad het. 

 Intussen het die Departement van Landbou, Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling in die Noord-Kaap die reën wat in gebiede in dié provinsie uitgesak het, met ope arms verwelkom. Woordvoerder, Phemelo Manankong, sê dit gaan boere, wat swaar gebuk gaan onder droogtetoestande, se nood ietwat verlig. Daarmee saam is die gevaar van wegholveldbrande ook minder weens die natter toestande. Hy sê egter daar is baie gebiede wat nog geen reën gehad het nie en die boere het dringende hulp in die vorm van veevoer nodig. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SANW) is onderskeidelik 14mm en 16mm reën Maandag in Kuruman en Vaalharts gemeet. 'n Voorspeller by die Bloemfonteinse weerkantoor, Kevin Ingram, sê daar is vooruitsigte op reën in sekere gebiede.



OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.