On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Landbounuus-podcast: Boere hoop vir nog reën

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 14:00 Mon, 11 Feb 2019

Landbounuus-podcast:  Boere hoop vir nog reën  | News Article

Ondanks goeie opvolgreën die afgelope naweek in die sentrale deel van die Vrystaat, onder meer by Bloemfontein, hoop dankbare boere op nóg reën om gemiddelde mielie- en sonneblom-oeste te lewer.


Dit is volgens Laurens Schlebush van die Geluksdam-landbouvereniging wat sowat 30km buite Bloemfontein in die rigting van Jagersfontein boer. Dit was vir hom 'n uitdagende somersoesoen gewees, soos die geval by talle ander boere. Ná die die eerste noemenswaardige reën wat eers vroeg in Januarie voorgekom het, kon Schlebush wel mielies aanplant, maar dit was minder as sy aanplantings in vorige jare. Hy het toe meer op sonneblom gefokus, maar die uitermatige hitte in Januarie het sy tol op 'n deel van sy aanplantings geëis.


Volgens Schlebush was die sagte deurdringende reën van die afgelope naweek broodnodig vir sy aanplantings. Hy is egter bekommerd dat die tyd vir natuurlike veldgroei vinnig uitloop. Dit kom nadat natuurlike weiding vroeg in Januarie, nadat dit gereën het, goed begin uitloop het maar toe weens die hittegolftoestande in middel-Januarie deur die son doodgebrand is. Schlebush sê in hierdie tydperk was die oppervlak-temperatuur wat hy gemeet het, sowat 53 grade Celsius gewees. Laer temperature en opvolgreën is daarom nou noodsaaklik. 


Terwyl boere in dele van die Vrystaat jubel oor opvolgreën wat die naweek uitgesak het, is daar dele in die Noord-Kaap waar boere nou op moedverloor se vlakte is. In die Williston-gebied in die suidelike deel van dié grootliks droogtegeteisterde provinsie, het skaapboere die afgelope vyf jaar baie min reën gehad. Voorsitter van die Williston-landbouvereniging, Brand du Toit, sê die naweek was ook geen uitsondering gewees nie.


Hy sê die situasie is al verby kritiek, boere is nou wanhopig. Veevoerskenkings van regoor die land is al waaraan boere in dié distrik steeds vashou. Hulle is dankbaar vir elke skenking, maar meer skenkings is nog nodig, want kommersiële en opkomende boere is nou raadop. 


Die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SANW) se nuutste reënvalsyfers die afgelope naweek van Sondag 08:00 tot Maandagoggend dieselfde tyd, toon 26mm reën het in die Bethlehem-gebied in die Vrystaat voorgekom. In Bloemfontein self het 11mm reën op plekke geval en net buite dié stad, by die Glen-landboukollege, is 27mm gemeet. In Fauresmith is 38mm, Frankfort 33mm, en Wepener 18mm reën gemeet. In Noordwes is 8mm by Ottosdal en 4mm by Bloemhof gemeet. In die Noord-Kaap het 6mm by Kimberley en 7mm by Vaalharts geval. Boere in die Ottosdal-gebied sê dit het kol-kol/(plek-plek) gereën maar 12mm reën het op plekke voorgekom. Boere plant nou volstoom sonneblom aan in dié gebied, terwyl daar nog boere is wat tot so onlangs soos verlede week mielies aangeplant het.  


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.