Local News
Beestelersgenootskap veroordeel aanvalle op plase─── CHRISTAL-LIZE MULLER 15:58 Wed, 18 Apr 2018

Die Suid-Afrikaanse Brangus-telersgenootskap veroordeel aanvalle op plase ten sterkste.
Dit kom nadat ‘n vooraanstaande beesteler en lid van dié genootskap, Christo Bosman (52), en sy vrou, Lizel (46) vanoggend omstreeks 02:00 in hul slaapkamer op hul plaas Kareeboom deur ‘n groep van tussen sewe en agt mans oorrompel is. Die aanvallers het klapmusse aangehad. Die egpaar is aangerand en Bosman is met 'n skerp voorwerp in die bors gesteek. Lizel is ook rondgepluk, maar nie ernstig beseer nie. Hulle is vasgebind waarna die aanvallers met die egpaar se Ford-bakkie op die vlug geslaan het. Dié Brangus-genootskap se rasdirekteur, John Rafferty, sê Bosman het een van die grootste stoeterye in die land.
Rafferty sê vier van dié genootskap se lede is die afgelope twee jaar op plase oor die land heen aangeval en iets drasties moet gedoen word om kosprodusente se veiligheid te verseker.
Bosman word in 'n hospitaal in Kimberley in die Noord-Kaap behandel. Na wat verneem word, is hy in ‘n bestendige toestand. Nog niemand is sover bekend in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Die polisie ondersoek 'n klag van huisroof nadat onder meer vuurwapens en selfone gebuit is.
OFM-nuus het vroeër berig dat die egpaar se Ford-bakkie, waarmee hul aanvallers op die vlug geslaan het, sowat 10km buite Kuruman ook in die Noord-Kaap verlate gevind is.
OFM-nuus