Local News
Ma, seun kry borgtog nadat plofstof in huiskerk gekry is─── CHRISTAL-LIZE MULLER 10:12 Fri, 23 Mar 2018
'n Vrou van Theunissen wat glo 'n kerkleier is en haar seun is albei op borgtog van R1000 vrygelaat nadat plofstof in hul huis, wat ook as 'n kerk gebruik word, gekry is.
Die 47-jarige Elisa Mboyane en haar 31-jarige seun Mongezi is Maandagnag by hul huis in Boipatong, Theunissen, aangekeer nadat daar op heelwat plofstof, wat vermoedelik gebruik word om kitsbanke mee op te blaas, beslag gelê is.
Polisiewoordvoerder in die Vrystaat, Thandi Mbambo, sê die Eenheid vir Openbare Orde in Welkom het Maandag omstreeks 16:00 inligting ontvang dat mense in Theunissen in besit van plofstof is. Dié reaksiespan en lede van 'n provinsiale taakspan het 'n intelligensie-gedrewe operasie in Masilonyana uitgevoer. Inligting is opgevolg en daar is op die Mboyane's se huiskerk toegeslaan. Volgens Mbambo het dit later aan die lig gekom dat dié plofstof wat gekry is, gebruik sou word om OTMs in Welkom op te blaas.
Die Mboyane's het Dinsdag vlugtig in die plaaslike landdroshof op 'n aanklag van die onwettige besit van plofstof verskyn. Hofverrigtinge is uitgestel sodat hulle regshulp kan verkry en hulle sal na verwagting weer eerskomende Maandag in die hof verskyn.
OFM-nuus