On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Local News

Zeerust-bejaarde sterk in hospitaal aan ná gru-aanval

───   MARK STEENBOK 17:48 Mon, 12 Feb 2018

Zeerust-bejaarde sterk in hospitaal aan ná gru-aanval | News Article

Zeerust - Dit gaan onder omstandighede goed met die 80-jarige Jan McDonald van Zeerust in Noordwes wat die afgelope naweek ‘n gru-aanval in sy huis oorleef het.


Dit is volgens ‘n familievriend en pastoor, Charlotte Crous, wat gisteroggend op hom afgekom het.

 

Polisiewoordvoerder, Adéle Myburgh, het vroeër aan OFM-nuus gesê dat McDonald vermoedelik Sondagoggend deur ‘n onbekende getal verdagtes in sy huis oorval is. Sy sê die bejaarde gemeentelid wat alleen bly, was ten tyde van die aanval erg aangerand.

 

Crous sê sy het onraad vermoed toe McDonald nie soos gewoonlik gister vir haar die kerk kom oopsluit het nie.

 

“Ek is die pastoor by die kerk, en hy sluit altyd vir my die kerk oop. Hy wil dit so graag doen en hy is altyd so ongeveer 07:45 by die kerk. Hy is ‘n vreeslike presiese oom, wat altyd sal laat weet as hy laat gaan wees. Ek het na sy huis, wat net oorkant die kerk is, gegaan. Die voordeur was oop, en ek het hom toe in die gang in baie ‘n slegte toestand gekry. Ek het paramedici ontbied.”

 

Sy sê McDonald se hande en voete is tydens die aanval vasgebind, terwyl die booswigte hom herhaaldelik met ‘n pyp oor sy liggaam geslaan het.

 

“Hy was baie gelukkig gewees want hy het 'n ou haelgeweer en hulle het patrone daarin gesit, maar elke keer as hulle die sneller wou trek, het dit nie afgegaan nie. Hulle het selfs met sy handgeweer probeer skiet, maar dit het ook nie gewerk nie, so dit is werklik genade,” sê Crous.

 

Volgens Crous was McDonald gelukkig om nie enige ernstige beserings op te doen nie.

 

“Sy voete en hande is vasgebind en hulle het hom verskriklik met die pyp geslaan. Maar hy het geen breuke of enige inwendige beserings opgedoen nie. Hy het nie eers ‘n oopwond nie. Hy is net baie gekneus, blou en het baie pyn. Sy bloeddruk is laag en hy is nog in skok, maar hy sterk goed aan,” sê Crous

 

Sy sê McDonald behoort oor ‘n dag of twee uit die hospitaal ontslaan te word.

 

Die polisie sê nog niemand is in verband met die voorval in hegtenis geneem nie. Sover vasgestel kan word, is die kluis oopgebreek en is daar vuurwapens en ‘n bedrag geld gesteel, volgens Myburgh.

 

Die Zeerust-polisie ondersoek klagte van huisroof en poging tot moord.


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.