On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Local News

Vermeende veediewe hou kalf in badkamer aan

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 09:47 Tue, 22 Aug 2017

Vermeende veediewe hou kalf in badkamer aan | News Article
Die gesteelde kalf wat in ‘n huis op Mafahlaneng in die Vrystaat gevind is. FOTO: VERSKAF

Drie verdagtes wat op 'n plaas in die Tweeling-distrik in die Vrystaat gewerk het, is aangekeer nadat hulle na bewering 'n kalf gesteel het en die dier daarna in 'n huis se badkamer versteek het.


Polisiewoordvoerder, Zweli Mohobeleli, sê die vermeende veediewe is Vrydag by 'n huis in die Mafahlaneng-township by Tweeling in hegtenis geneem nadat lede van die polisie se plaaslike sigbarepolisiëringseenheid op inligting van die gemeenskap gereageer het.

Die inligting het daarop gedui dat 'n twee weke oue kalf verlede Donderdag op 'n plaas in dié distrik gesteel is en dat die verdagtes onlangs tydelike werkers op dieselfde plaas was.

Mohobeleli sê die kalf is aan sy regmatige eienaar terugbesorg nadat 'n klag van veediefstal reeds by die polisie aanhangig gemaak is. Die kalf drink nog aan sy ma.

Hy vra boere om seker te maak dat hulle hul heeltydse werknemers, insluitend tydelike werknemers, se besonderhede soos hul name (ID-nommers) en oorspronklike woonadresse beskikbaar het sodat vermeende misdadigers makliker deur die polisie opgespoor kan word, indien nodig.

Boere wat nie permanent op hul plase bly nie en nie daagliks op hul plase is nie, kan nodige reëlings tref dat hulle plase gepatrolleer word. Hy sê boere kan die polisie nader. Mannekrag kan beskikbaar gestel word sodat ‘n plaas af en toe gepatrolleer word, sê Mohobeleli.

Hy vra boere om hul vee en veral skape nader aan opstalle aan te hou en nie langs hoofpaaie te laat wei nie, omdat dit makliker is vir booswigte om vee dan te steel.

Boere moet ook gereeld hul vee tel en heinings op hul plase nagaan en in stand hou. Dit is ook belangrik dat alle vee gebrandmerk word, sodat die vee in geval van diefstal uitgeken kan word deur eienaars.


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.