On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Local News

Brande saai verwoesting oor Vrystaat heen #fire

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 14:52 Fri, 18 Aug 2017

Brande saai verwoesting oor Vrystaat heen  #fire | News Article
Grensdrade word ná verwoestende wegholbrande tussen Cornelia en Frankfort herstel. Foto: Verskaf

Boere oor die Vrystaat heen het vandeesweek behoorlik bontgestaan om wegholveldbrande, wat deur ‘n stormsterkte wind versprei is, in bedwang te bring.


Twee afsonderlike brande het Woensdag naby die N3 in die rigting van KwaZulu-Natal tussen Cornelia en Frankfort verwoesting op talle plase gesaai. 

Die brandbeampte van die Cornelia-brandbestrydingsvereniging, Jaco Hurter, sê meer as 10 000 hektaar se weiveld en landerye het in die slag gebly. Sover bekend het 'n boer in die distrik sowat 58 beeste en twee perde verloor. Nog 'n boer het 14 beeste, waaronder ses dragtige koeie, in die brand verloor. Kleiner wildsbokkies en ander diertjies is ook heel moontlik in die brande dood. 

Hurter sê die eerste brand het Woensdag omstreeks 11:30 vermoedelik by plaaswerkers se huise by Frankfort ontstaan.

Die vlamme is vinnig vandaar sowat 26km verder deur sterk wind aangejaag. Die hoë vlamme het oor die N3 gespring en digte rook het verkeersvloei belemmer. Volgens hom was twee vragmotors en ‘n bus in ‘n ongeluk betrokke. Twee ander motors was ook betrokke in ‘n afsonderlike ongeluk.

Hoë vlamme het ook vinnig deur mielielanderye met oesreste getrek. Boere en hul plaaswerkers het die vlamme met waterspuite probeer blus. “Jy’t naderhand nie geweet waar om te vat of te los nie.”

Hurter sê nog 'n brand wat in die Graskop-gebied ontstaan het, het die situasie vererger. Boere asook brandbestyders van Working on Fire en die brandweer op Frankfort het hard gewerk en nadat die wind ietwat bedaar het, is die brande omstreeks 22:00 onder beheer gebring. Dit het weer Donderdagoggend omstreeks 03:00 opgevlam, maar betrokkenes kon dit blus en het die situasie deurlopend gemonitor.

Dit is nog onduidelik hoe die brand in die Graskop-gebied ontstaan het, maar die moontlikheid van brandstigting word nie uitgeskakel nie.

Hy sê die meeste boere wat deur die brande geraak is, ontvang hulp in die vorm van veevoer omdat hul weidingskampe verwoes is. Gister het boere begin om hul grensdrade wat geknip is om nader aan die vlamme te kom te herstel.

Thinus Steenkamp, bestuurder van die Vrystaatse sambreel-brandvereniging, sê daar was die laaste paar dae wydverspreide brande oor die hele provinsie. Boere en brandbestryders moes veg teen vure by Clarens en Bethlehem, Vrede, en tussen Theunissen en Brandfort. Volgens hom is tussen 150 000 hektaar en 200 000 hektaar veld reeds hierdie winter in die Vrystaat in veldbrande verwoes.


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.