On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret, John and Nadine
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Local News

Kodewoord red egpaar tydens plaasaanval op Makwassie

───   MARK STEENBOK 13:51 Tue, 06 Jun 2017

Kodewoord red egpaar tydens plaasaanval op Makwassie | News Article

Die polisie in Noordwes sê die verdagte wat in hegtenis geneem is in verband met ‘n voorval waarin 'n egpaar helder oordag op hul plaas buite Makwassie deur drie mans met klapmusse aan oorrompel en beroof is, sal eers môre in die hof verskyn.


Polisiewoordvoerder, Amanda Funani, sê die verdagte wat gisteroggend vasgetrek is, moet nog formeel aangekla word.

Die egpaar, wie se identiteit nog nie bekend gemaak kan word voordat hulle toesteming gegee het nie, het Sondag vermoedelik van die kerk af teruggekeer toe hulle deur twee mans oorval is. AfriForum se Nasionale veiligheidskoördineerder, Marius Müller, sê toe die egpaar by die huis gestop het, het hulle agtergekom iets is nie pluis nie.

“Die aanvallers het hulle oorval nadat hulle by die garage gestop het en ‘n wapen is toe teen die man se voorkop gerig. Hulle het geskree: “Ons is hier!” Müller sê die egpaar en die drie aanvallers is toe later in die huis in geneem waar die aanvallers kos en drank gegee is.

Müller sê die egpaar, wie se jongste seun ten tyde van die aanval nog in Durban by die Comrades-marathon was, het ‘n boodskap aan sy pa gestuur. “Die seun het agtergekom iets is nie reg nie nadat hy ‘n boodskap aan sy pa gestuur het. Die pa antwoord gewoonlik baie vinnig sy WhatsApp-boodskappe en ná tien minute het sy pa nog steeds nie geantwoord nie.

Die seun het later sy ma gebel waarna die foon aan die pa gegee is. “Ten tyde van die gesprek het die pa aan sy seun gesê: ‘Sê vir jou broer sterkte op Leeudoringstad’ en dadelik die foon neergesit. Dit was soos ‘n kodewoord wat deurgegee is.

“Die seun het dadelik sy oudste broer gebel en aan hom vertel dat iets nie reg is by die huis nie. Die ouer seun het daarna stadig by die huis aangery gekom. Sy pa het by die venster gestaan en aangedui dat hy dadelik moet padgee,” sê Müller.

Müller sê dit is toe wat die seun ‘n noodroep aan al die plaaslike buurtwagte en polisie deurgegee het. “Die rowers, wat nog in die huis was, het later besef dat mense op pad is en op die vlug geslaan.

Funani sê die egpaar het geen ernstige beserings opgedoen nie, maar 'n buurman, wat by hul huis opgedaag het om hulle te help is wel deur die aanvallers aangerand. “Drie selfone, 'n onbekende bedrag geld en verskeie ander artikels wat aan die egpaar behoort, is gebuit,” sê Funani.

Müller sê die een verdagte is danksy tegnologie vasgetrek. Hy sê die egpaar is ongedeerd ná die aanval. “Enige aanval is baie traumaties. Hulle weet hulle kan op ons knoppie druk vir enige berading ná die tyd,” sê Müller.

Die polisie is steeds op soek na die ander twee verdagtes en ‘n klag van huisroof en poging tot moord word ondersoek.


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.