On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Human Interest

McGown se vrylating bring herinneringe terug vir Korkie

───   CHRISTAL-LIZE MULLER 10:45 Fri, 04 Aug 2017

McGown se vrylating bring herinneringe terug vir Korkie | News Article
Pieter-Ben, Yolande en Lize-Marie Korkie

Die Bloemfonteiner, Yolande Korkie, wat op 27 Mei 2013 in Jemen saam met haar man, Pierre, ontvoer en deur Al-Kaïda gyselaar geneem is, is verheug en dankbaar dat die ontvoerde Suid-Afrikaner, Stephen McGown, vrygelaat is en met sy gesin herenig is.


McGown is in 2011 in Timboektoe deur Al-Kaïda-militante gevange geneem. Die Minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Maite Nkoana-Mashabane, het McGown se vrylating Saterdag, eers gister aangekondig. Hy was al Sondag terug in Suid-Afrika.

Wyle Pierre en Yolande en hul kinders, Pieter-Ben en Lize-Marie, is op 6 Desember 2009 na Jemen waar Pierre, ‘n oud-onderwyser aan Grey-kollege in Bloemfontein, ‘n onderwyser in Engels by die Rahaf Foundation for Development was.

Yolande, wat vroeg in Januarie 2014 sonder ‘n losprys en ná uitgerekte bevrydingsonderhandelings deur die organisasie Gift of the Givers met Al Kaïda vrygelaat is, sê McGown se vrylating en terugkeer na Suid-Afrika bring ou herinneringe terug. Sy onthou hoe sy en haar kinders, Pieter-Ben en Lize Marie, angstig op Pierre se terugkeer na Suid-Afrika gewag het.

Hy is in Desember 2014, enkele ure voor sy bevryding, in ‘n mislukte reddingspoging doodgeskiet toe Amerikaanse spesiale magte sy medegyselaar, Luke Somers, wou bevry. Korkie sou vrygelaat word nadat GOTG se verteenwoordiger in Jemen, Anas al-Hamati, met behulp van plaaslike stamhoofde ‘n bepaalde losprys vir sy vrylating onderhandel het.

Yolande sê haar en die kinders se blydskap oor McGown se vrylating is belaai met gemengde emosies, wat hartseer herinnerige oor Pierre insluit. Sy sê McGown, wat die naweek met sy gesin herenig is, gaan nou onder meer 'n aanpassingsproses moet deurgaan.

“As ‘n gyselaar word ‘n mens se perspektiewe omgekeer.” Ná ‘n mens se vrylating en “wanneer jy terug in die gemeenskap is, moet jy weer van voor af bepaal wat jou prioriteite is.” Sy sê ‘n mens se prioriteite verander as jy in ‘n gyselaarssituasie was. “’n Mens kyk anders na die wêreld.”

Yolande het ook ‘n boek, 558 Dae oor die egpaar se gyselaarsdrama in Jemen, bekendgestel. Dit is ‘n verhaal van trauma, tragedie, onwrikbare liefde, vertroue en ware geloof wat met herinneringe vervleg is.


OFM-nuus

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.