On Now
Weekdays 18:00 - 19:00
OFM Business Hour Olebogeng
NEXT: 19:00 - 23:00 OFM Nights with Laurika
Listen Live Streams

Central SA

Drie broers van Bloemfontein leef voluit ondanks nierkwaal

───   KAREN VAN DER BERG 14:43 Thu, 27 Feb 2025

Drie broers van Bloemfontein leef voluit ondanks nierkwaal | News Article
Die Hoffman-gesin van Bloemfontein gryp die lewe aan ondanks die uitdagings wat ’n ernstige niersiekte vir hulle meebring. Van links is Johan, pa Jaco, Elma, ma Alta, en Janco. Foto verskaf

Nuwe komplikasies, emosionele uitdagings en vele beperkings.

Dit is alles deel van die lewe waaraan hulle gewoond is, vertel Alta Hoffman van Bloemfontein oor haar drie seuns wat al drie aan chroniese nierversaking ly. Maar hulle veg elke dag voort, want die lewe is die moeite werd. 

Alta en haar man, Jaco, se werklikheid is dat ’n seldsame genetiese afwyking, NPHP3, wat tot nefronoptise ly, ná genetiese toeste by hul seuns, Johan (26), Janco (16) en Altus (14), gediagnoseer is.

Alta en Jaco, en hul dogter, Elma (23), is draers van die geen, maar ly nie aan die siekte nie.

Johan, wat reeds ’n nieroorplanting gehad het, was 13 toe sy ouers bewus raak iets is nie pluis is nie en chroniese nierversaking by hom gediagnoseer is.

Sowat ’n jaar later het sy pa as geskikte kandidaat vir hom ’n nier geskenk.

Vier jaar later het sy liggaam die nier verwerp. Hy moet weer ’n geskikte skenker kry en ’n nier moet vir hom oorgeplant word. “Omdat hy al ’n vorige nieroorplanting gehad het, is dit ongelooflik moeilik om ’n geskikte skenker te kry. Sy liggaam het teenliggame opgebou wat oorplanting moeilik maak,” vertel Alta.

Altus Hoffman, die jongste gesinslid, ly ook aan die seldsame nierkwaal. Hy het nie chroniese nierversaking nie, maar sy nierfunksie gaan agteruit. Foto verskaf

“Ons grootste behoefte is om vir Johan ’n geskikte skenker te kry sodat hy so gou moontlik ’n nieroorplanting kan kry. Hy is wel nog ’n geskikte kandidaat. Johan kan nie werk nie weens sy toestand en dialise. Hy het ook twee jaar gelede ’n oogberoerte gehad wat sy sig belemmer.”

Janco het ook ’n nieroorplanting gehad, sê Alta, in Januarie verlede jaar. “Hy word gereeld ondersoek om seker te maak sy liggaam verwerp nie sy niere nie. Hy drink immuunonderdrukkers die res van sy lewe om verwerping te voorkom.”


Sy sê hy het ’n lae immuniteit, en dit is belangrik vir hom om nie ontsteking op te doen nie. “Oor die algemeen gaan dit goed met hom ná die nieroorplanting.” Hy kry tuisonderrig en is in gr. 10.

Oor die jongste, Altus, ’n gr. 9-leerder aan die Hoërskool Jim Fouche, sê sy hy word gereeld vir nierfunksie getoets. “Ongelukkig weens die aard van hul toestand kan hul niere nie met behandeling verbeter nie.”

Alta sê hulle is baie dankbaar oor die ondersteuning van familie, vriende en die gemeenskap.


Saterdag (1/3) word ’n dans en spitbraai ten bate van die Hoffman-broers in samewerking met Kidney Heroes gehou. Die Hoffman-gesin het Kidney Heroes gestig om geld in te samel vir behandeling en bewusmaking op te skerp.

Besoek die Orgaanskenkerstigting se webtuiste vir nog besonderhede.

OFM Nuus/Karen van der Berg cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.