Central SA
Vier vas vir mensehandel in boomryke voorstad van Bloemfontein─── MORNÉ VAN ROOYEN 12:36 Thu, 27 Feb 2025

Vier verdagtes kom binnekort in die hof voor nadat hulle in ’n huis in die Bloemfonteinse voorstad Bayswater vir mensehandel in hegtenis geneem is.
Die vier vermeende mensehandelaars (20 tot 40) sal in die Bloemfonteinse landdroshof voorkom nadat hulle Dinsdag (25/2) in hegtenis geneem is. Hulle word onder meer aangekla van die onwettige besit van dwelms, ’n SANW-uniform asook vuurwapens en ammunisie, sê lt.kol. Zweli Mohobeleli, Vrystaatse polisiewoordoerder.
“Beamptes van die eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad het op ontstellende inligting gereageer oor ’n geval van mensehandel in ’n huis in Bayswater,” sê Mohobeleli. “’n Bloemfonteinse vrou (39) is na bewering daarheen gelok deur ’n vroulike verdagte met beloftes van ’n beter lewe.”
Nadat sy in die huis was, het die werwer haar betaling ontvang, en die slagoffer het kos en klere gekoop. “Dinge het skeefgeloop toe sy dwelms ingegee is, gedwing is om seksuele dade te verrig en die huis skoon te maak.”
Vier mense is tydens die polisie se klopjag in hegtenis geneem. Foto verskaf
Beamptes van georganiseerde misdaad en die honde-eenheid het Dinsdag in ’n gesamentlike optrede klopjagte op twee huise uitgevoer. Beslag is gelê op dwelms soos tik en mandrax, die uniform, ’n bankkaartskandeerder en twee vuurwapens asook ammunisie, sê Mohobeleli.
Inwoners word gemaan om hul oë oop te hou en mensehandel onverwyld aan te meld, sê genl.maj. Mokgadi Bokada, Vrystaatse Valke-hoof. “Laat ons gevalle nagaan, selfs al lyk die verdagtes na betroubare mense.”
In die derde kwartaal van die 2024/2025-boekjaar is 4 748 gevalle van ontvoering landwyd aangemeld, oftewel meer as 50 per dag. In die Vrystaat het die gevalle jaar op jaar afgeneem van 210 tot 183, in die Noord-Kaap van 53 tot 43, maar Noordwes se 206 gevalle was onveranderd.
Die Valke en polisie het saam toegeslaan en twee huise deursoek. Foto verskaf
In Gauteng is 2 499 mense ontvoer, 132 meer as ’n jaar vantevore, die hoogste voorkoms en meer as die helfte van die gevalle landwyd. Van die 30 polisiekantore met die hoogste getal ontvoerings, was 26 in Gauteng en vier in KwaZulu-Natal.
Verreweg die meeste mense word ontvoer vir ’n losprys, wys die jongste misdaadsyfers, gevolg deur afpersing en dan mensehandel. In die meeste gevalle maak die polisie nie die rede vir ontvoering in hul statistieke bekend nie.