On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Noord-Kaapse ouers maak dogters se atletiekbyeenkoms moontlik

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 12:06 Thu, 27 Feb 2025

Noord-Kaapse ouers maak dogters se atletiekbyeenkoms moontlik | News Article
Die Nel-gesin. Foto verskaf

’n Pa en ma van die Noord-Kaap het skouer aan die wiel gesit om dit vir hul dogters moontlik te maak om, ondanks geldnood, dié naweek aan ’n atletiekbyeenkoms deel te neem.

Morné Nel en sy vrou Samantha, van Hartswater in die Noord-Kaap, was vasbeslote om te verseker niks staan in D’Nita (18) en Elma (14) se pad nie.

Dié leerlinge van die Hoërskool Hartswater presteer in diskus, gewigstoot en hamergooi en sien daarna uit om Saterdag (1/3) hul staal te toon op die gesogte Francis Baard-byeenkoms in Kimberley. Hul pa het die rol as afrigter opgeneem en bakstene as tydelike oefenapparaat gebruik totdat hulle in behoorlike toerusting kon belê.

D’Nita en Elma Nel. Foto verskaf

Om die skool se top-20 te haal, moes D’Nita aan minstens twee items benewens gewigstoot deelneem en die topdrie haal. Dis tóé dat sy besluit het om ook hamergooi en diskus op te neem.

In 2023 het D’Nita die top-20 gehaal en verlede jaar is sy aangewys as die beste dogtersatleet. Sy het steeds verder gereik en begin vanjaar haar skool se hamergooirekord met ’n gooi van 29,11 m verbeter. 

Haar persoonlike bestes in die ander twee items het ook bly verbeter: 25,45 m in diskus en 8,73 m in gewigstoot.

‘Hulle het geldinsamelings gereël en uitgereik na ondernemings vir borgskappe’

Sy het vanjaar nie net haar eie hamergooirekord op die top-20-byeenkoms tot 30,3 m verbeter nie, maar sy is ook gekies as die kaptein van die meisies se top-20-span en aangewys as die beste o. 19-dogtersveldatleet. Kleinsus Elma, ’n gr. 9-leerder, het vinnig in D’Nita se voetspore gevolg en vir haarself ’n naam op die veld gemaak, vertel haar pa.


In 2024 het Elma by die hoërskoolatletiekspan aangesluit en verlede jaar sowel as vanjaar haar plek in die skool se top-20-ranglys verseker. Haar diskusprestasie het drasties verbeter van 27,15 m tot 31,22 m. Haar diskusgooi het ook in dieselfde jaar verbeter van 18,69 m tot 20,40 m.

Omdat die gesin ken van swaarkry, moes hulle inspring om hul uitblinkers se drome waar te maak. Om hul dogters te ondersteun, het Morné en Samantha dit op hulle geneem om geldinsamelings te reël en uit te reik na ondernemings vir borgskappe.

D’Nita Nel. Foto verskaf

’n Noemenswaardige bydrae was van ’n slaghuis op hul tuisdorp, wat meer as R3 000 se versnaperinge en drinkgoed aan die atlete van die Hoërskool Hartwater se top-20-span geskenk het.

Daarbenewens het die Nel-gesin hard gewerk om skenkings van die gemeenskap in te samel vir toegangsfooie, vervoer en etes. Hulle het ook ’n gelukstrekking begin waarin die wenner, wat op 28 Februarie aangewys word, ’n tuisgebakte beskuitjiepakkie wen.

As ouers is dit vir hulle belangrik om seker te maak dat hul dogters hul talente ten volle kan uitleef. “Ons is geseënd vir die tyd saam met ons dogters.”

OFM Nuus/Charne van der Merwe mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.