On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki, Kayla and JayBee
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Central SA

Bloemfonteinse skool sleep metro hof toe oor sinkgat

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 09:32 Thu, 27 Feb 2025

Bloemfonteinse skool sleep metro hof toe oor sinkgat | News Article
Die sinkgat is al amper twee jaar op die skool se rugbyveld. Foto verskaf

’n Hoërskool in Bloemfontein vat Mangaung-metro hof toe omdat die munisipaliteit ná twee jaar nog niks gedoen het aan ’n sinkgat op die skool se rugbyveld nie.

Ten spyte van herhaalde versoeke en beloftes van die metro om die herstelwerk te bespoedig, bly die probleem onopgelos sedert die sinkgat in Maart 2023 ingeval het, sê Pieter Muller, Hoërskool Sentraal se beheerliggaamvoorsitter.

Die sinkgat is veroorsaak deur die ineenstorting van ’n gedeelte van die ondergrondse kanaalplafon in die voorstad Dan Pienaar, wat toe ’n sinkgat onder ’n rugbyveld van die skool laat ontstaan het.

Muller sê die skoolgemeenskap het geduldig op oplossings gewag, maar die voortgesette vertraging het ’n ernstige uitwerking op hul sportprogramme en infrastruktuur.

Die gat is wyer oopgemaak om vas te stel wat dit veroorsaak het. Foto verskaf

Die DA in Bloemfontein is teleurgesteld dat die herstelwerk aan die gevaarlike sinkgat ná 24 maande steeds nie deur die munisipaliteit voltooi is nie, sê Werner Pretorius, DA-wetgewerlid, al is die vertraging in herstelwerk herhaaldelik onder die aandag van die LUR’e vir onderwys en samewerkende regering gebring.

Hy sê dit is jammer dat die skool nou gedwing word om regstappe teen Mangaung te doen om die veiligheid van leerders, personeel en inwoners te verseker.

Volgens Muller is hierdie situasie nadelig vir hul leerders se sportontwikkeling en plaas dit druk op die skool se hulpbronne. “Die veiligheid van ons leerders en personeel is vir ons van uiterste belang, en daarom kan ons nie langer wag vir optrede nie.

“Aangesien geen bevredigende vordering gemaak is nie, het die skool geen ander opsie as om regstappe teen die Mangaung-munisipaliteit te doen nie.

Die herstelwerk aan die gevaarlike sinkgat is ná 24 maande steeds nie voltooi nie. Foto verskaf

“Dis ’n jammerte dat die partye nou regskoste moet aangaan, want die geld kon liewer aan die ontwikkeling van Sentraal se leerders of vir hulp aan armes in die gemeenskap gebruik geword het.

“Ons doen ’n beroep op alle betrokke partye om dringend en deursigtig op te tree, sodat hierdie probleem eens en vir altyd opgelos kan word,” sê Muller.

Sentraal het op Valentynsdag 2023 18 slaggate rondom die skool herstel as deel van ’n gemeenskapsprojek. Swaar reën het groot skade aan die paaie rondom die skool aangerig en die instandhoudingspan het daarna ingespring en die gate herstel.

OFM Nuus het Mangaung-metro om kommentaar genader.

OFM Nuus/Charne van der Merwe cg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.